Skou 'n Skittergeleentheid!

Thabazimbi – Die Thabazimbi Landbou- en Nywerheidgenootskap Skou gaan net elke jaar van krag tot krag. Hierdie jaar was weereens ‘n spoggeleentheid vir oud en jonk. Die skou het oor die naweek van 27-29 Julie plaasgevind.
Ten spyte daarvan dat dit die skou se 65ste bestaansjaar is, groei dit steeds. Vanjaar was daar oor die drie dae 5% meer besoekers deur die hekke teenoor verlede jaar. Die volwasse besoekers was effens minder, maar die jonger besoekers was heelwat meer as in die verlede. Die eerste dag besoek nagenoeg 10% die skou, 30% die Vrydag en 60% die Saterdag. Hierdie skou se teikenmark is egter die gesin.
Stalletjies word tot 100 beperk en gekeur vir toelating. Die komitee werf stalletjies by ander skoue en uitstallings om hoë standaarde te handhaaf, en poog om nie te dupliseer nie en ook om nie lae kwaliteit massaproduksie items toe te laat nie.
Dit het die afgelope jare die gevolg gehad dat meer van die gemeenskap se kwaliteit voete die skou besoek. Die ‘kwaliteit’ besoekers ondersteun die stalletjies en veroorsaak dat kwaliteit stalletjies bereid is om hier te kom vertoon. Die stalletjies die jaar was werklik iets besonders.
Die kosstalletjies het gewissel van die gewone wat in almal se smaak val tot die eksotiese soos krokodil sosaties en “krok nuggets”. Daar was seekos, asook die bekende lamsbredie en vele meer om van te kies wees.
Die gaskunstenaars was onder andere Chris Else, Adam, Touch of Class en Irene-Louise.
“Na 8 jaar is ons skou steeds na die beste van ons wete vry van dwelms en pornografie. Dit is waarskynlik die rede waarom meer ouers hulle kinders toelaat om die skou by te woon, soos ons heksyfers aandui. Ons gebruik plaaslike mense om hekke te beheer. Ons gee voorkeur aan plaaslike vertoners met stalletjies. Daar word ook gepoog om al die stalletjies aan al die moontlike voete bloot te stel, vandaar ons stelsel van die drukgang. Ons besef dis nie vir almal vreeslik aangenaam nie maar ons stalletjies baat daarby en verkies dit so,” sê Jan Trichard, president van die skoukomitee.
Die Thabazimbi skou is tans die enigste volwaardige Landbou en Nywerheidskou in Limpopo en een van min wat nog oor is in die land. Daarom is die feit dat dit boonop nog groei ‘n besonderse prestasie – selfs Pretoria se skou vind nie meer plaas nie.
As beesskou is ons een van die grootstes in die land. Slegs die Brahmane se nasionale kampioenskappe het meer Brahmane as Thabazimbi. Vier ander beesrasse se genootskappe het aangetoon dat hulle in 2018 hulle nasionale kampioenskappe hier tydens ons skou kom aanbied.
Beesvertoners van sover as Lesotho, Villiers, Lichtenburg, Bloemfontein en Louis Trichardt het vanjaar by ons skou kom vertoon. Verskeie beeste en bokke is vanjaar aan selfs internasionale kopers op die skou verkoop.
Die skou het ‘n komitee wat jaarliks verkies word om die bestuur te behartig. Jan Trichard (beter bekend as oom Jan) is die afgelope 7 jaar die president van die skou. Dis ‘n tradisionele benaming vir skouvoorsitters oor die jare. Oom Johan du Toit is die uitvoerende beampte en Tannie Elsa du Toit die sekretaresse.
“Die regte eienaars van Thabazimbi skou is egter die gemeenskap. Ons dek net die tafel en gom die beplanning aanmekaar. Die gemeenskap se betrokkenheid in terme van borge en ondersteuning maak die saak moontlik. Sonder díe kan die skou nie bestaan nie. Daarom het ons opregte dank en waardering vir al die vriende van die skou. Kyk gerus ons webblad (www.thabazimbishow.co.za) en Facebook blad (thabazimbilandbouskou) om al ons borge en vriende daar te sien. Dankie ook aan elke Thabazimbiër en andere wat die skou ondersteun en ambassadeurs is. Dankie aan die Platinum Bushvelder koerant vir hul ondersteuning met die plasing van die programme en ander blootstelling oor ‘n lang periode,” sê oom Jan.
Die skou bied op 9 Augustus ons “dankie sê” funksie aan waar ons dan al die borge en betrokkenes bedank. Daar is ook ‘n hele paar verrassings in die mou vir 2018. Ons sal die gemeenskap op hoogte hou!
