Community

Bingo, Braai & Baie Dankie!

23 July 2025 · Platinum Bushvelder

Bingo, Braai & Baie Dankie!

Thabazimbi – Die gesellige gees was aansteeklik toe ATKV Thabazimbi, in samewerking met SAVF Thabazimbi, op Vrydag 4 Julie 2025 hul geliefde jaarlikse Bingo en Braai-dag aangebied het. Die seniors van Bosveldoord, Sonskynoord en Huis Immergroen was dié keer weer die eregaste van hierdie spesiale winterviering.

“Hierdie geleentheid is ’n absolute hoogtepunt vir ons bejaardes en is reeds vir 2026 op die jaarprogram!” vertel ’n entoesiastiese Linda Grobler, projekkoördineerder en ATKV-bestuurslid.

“Ons bejaardes is deel van ons gesinsorgdienslewering in die gemeenskap,” sê Dalene Bester van SAVF Thabazimbi. “Om hulle bederf te kan bederf, is ’n tradisie vol vreugde.”

Die seniors kon nie uitgepraat raak oor die heerlike pap en sous, gebraaide wors en koolslaai nie – en natuurlik die energieke bingospeletjies wat baie lag en pryse meegebring het.

’n Groot dankie gaan aan Numzaan vir die skenking van wors, Wesvoere vir die mieliemeel, en elke getroue vrywilliger wat met liefde gehelp het voorberei, braai, opskep en opruim. Dít is gemeenskapsgees op sy beste! 

Foto: Span van sorg en samewerking! Agter van links: Dalene Bester (SAVF diensbestuur: voorsitter), Denese Chapman (SAVF en ATKV vrywilliger), Karabo Kubuzie (SAVF maatskaplike werker en kantoorhoof), Linda Grobler (projekkoördineerder, ATKV bestuur, SAVF diensbestuur: ondervoorsitter), en Christelle Barnard (SAVF diensbestuur). 

Voor van links: Arielle du Plessis (SAVF maatskaplike werker), Janita Barnard (SAVF vrywilliger), en Josephine Ndlovu (SAVF diensbestuur: sekretaresse).