Community

“Dis nie die einde van die wêreld nie… maar komaan!” [skrywe aan die redakteur]  

23 July 2025 · Platinum Bushvelder

“Dis nie die einde van die wêreld nie… maar komaan!”
[skrywe aan die redakteur]
 

Thabazimbi – Ná ’n kragonderbreking wat meer as ’n dag geduur het, het ’n ontstelde inwoner van Thabazimbi haar hart oopgemaak oor die frustrasies waarmee inwoners daagliks worstel.

“Ek kry regtig skaam vir ons land en die manier waarop dinge bestuur word,” sê sy. “Elke keer as ek vriende of familie van elders nooi, bid ek dat ons ten minste water en elektrisiteit sal hê. Dis mos nie reg dat ons só moet leef nie.”

Die krag was van Vrydag 11 Julie 2025 omstreeks 16:00 tot Saterdag 12 Julie teen 18:00 af in groot dele van Thabazimbi, Regorogile en omliggende gebiede.

“Ek kan nie eers indink hoe mense wat met internasionale kliënte werk dit regkry nie. Dit voel asof ons in houthuisies woon en niemand gee om nie,” voeg sy by. “Ja, ek wéét dit is nie die einde van die wêreld nie, en ja, ek weet ander plekke het erger probleme. Maar dit help nie om te sê ‘ander het dit slegter’ nie – dit maak nie ons situasie beter nie.”

Sy sluit af met ’n ernstige versoek: “Die munisipaliteit móét beter beplan. Ons het langtermynoplossings nodig. Want regtig, #EkKrySkaam.”