Community

Voortrekkers bederf met melktert en omgee!

17 March 2025 · Platinum Bushvelder

Voortrekkers bederf met melktert en omgee!

Thabazimbi – Nasionale Melktertdag op 27 Februarie 2025 was nie net ‘n soet bederf nie, maar ook ‘n geleentheid vir diensbaarheid – iets wat die Ysterberg Voortrekkers jaarliks met trots uitleef. Vanjaar het hulle besluit om die Thabazimbi Homeless Shelter, die SASSA-huis en Laerskool Thabazimbi te bederf met heerlike melktert en ‘n bietjie ekstra omgee. “Dit is vir ons as Voortrekkers ‘n eer en voorreg om ons gemeenskap te dien, al is dit net deur iets so eenvoudig soos ‘n stukkie melktert en ‘n glimlag,” sê Danie Naudé, veldkornet-leier van die Ysterberg Voortrekkers.

Die Voortrekkers is meer as net ‘n kultuurbeweging – hulle toerus die jeug om as moderne Afrikaners, positiewe burgers en konsekwente Christene hul roeping deur diensbaarheid uit te leef. Hierdie projek is ‘n pragtige bewys daarvan.

Die organisasie het spesiale dank uitgespreek aan ouers, offisiere en heemraadslede wat gehelp het om hierdie dag moontlik te maak, asook aan elke persoon wat ’n melktert geskenk of hand bygesit het. “Sonder julle sou hierdie dag nie moontlik gewees het nie. Dankie vir julle harde werk en groot harte!”

Main photo: Die deelnemers het elke happie van die heerlike melktert geniet – ‘n ware fees vir die smaakknoppies!

Van links: Karin Naudé (penningmeester, Ysterberg Voortrekkers), Gie Prinsloo (kantoordame, Laerskool Thabazimbi), Elize Gildenhuys (kantoordame, Laerskool Thabazimbi), en Danie Naudé (veldkornet-leier, Ysterberg Voortrekkers).