Joggie op die kassie!

Thabazimbi – Joggie Kotze is ‘n talentvolle kunstenaar wat pragtige kunswerke van staal maak. Hy is ook die eienaar van Man van Staal Kuns en Dekor waar sy kunswerke, sowel as ander plaaslike kunstenaars se werk uitgestal word.
Joggie het op Sondag 19 Februarie 2023 op die joernaalprogram, Kwêla, verskyn. Tydens die program deel hy met die bekende Pieter Koen dat sy ma altyd baie kunstig was en dat hy van jongs af ook lief was daarvoor om allerlei items te skep.
Hy het egter later in sy lewe besef dat sy groot liefde in staalwerk lê, en homself toe touwys gemaak en geleer om te sweis.
Sy stokperdjie het toe in ‘n vreugdevolle werk omskep. Joggie vertel dat die aand toe sy storie uitgesaai was, het hulle vriende oorgehad wat saam met hulle kom kyk het, en dat hy aanvanklik baie skaam was toe die kollig op hom was—maar later besef het dat dit eintlik ‘n ongelooflike voorreg was om die blootstelling te kry.
“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat ons gekry het, veral omdat ons winkel nog redelik nuut is,” sê Joggie. Volgens Joggie kry hy nou gereeld besoekers van ander dorpe wat na sy kuns kom kyk, wat ook beteken dat dit ‘n klein hupstoot vir Thabazimbi se toerisme bedryf gee.
Man van Staal Kuns en Dekor is geleë by die Thabazimbi Skougronde. Almal is welkom om vanaf 09:00 in te loer om Joggie sowel as ander plaaslike kunstenaars se kunswerke te besigtig.
#FosteringASenseOfCommunity
