Headlines

Oom Ampie, Thaba sal jou onthou!

3 March 2023 · Platinum Bushvelder

Oom Ampie, Thaba sal jou onthou!

Thabazimbi – Oom Ampie le Roux se wortels was diep geanker in die Thabazimbi gemeenskap en sy afsterwe op Saterdag 11 Februarie 2023 laat ‘n groot leemte in die dorp.


Oom Ampie was ‘n Thabazimbiër in murg en been. Hy is op 9 Desember 1944 gebore op die plaas Vlakplaats, 22 km buite Thabazimbi.


Hy het skoolgegaan by Laerskool Thabazimbi en was van die eerste leerders wat geregistreer was by Hoërskool Frikkie Meyer (HFM). Oom Ampie het graag vertel dat hy met sy tafel en stoel geloop het van die laerskool na die hoërskool, omdat die twee skole op daardie stadium ‘n klipgooi van mekaar af was.


Ampie het vanaf ‘n jong ouderdom rugby gespeel. Tool Botha wat vyf jaar ouer as Oom Ampie was, moes vir Oom Ampie se ouers toestemming vra sodat hy vir die dorp kon speel.  


Na skool het Oom Ampie gaan studeer by die Heidelberg Onderwys Kollege. Selfs toe, as die dorp rugbyspan gehoor het dat oom Ampie vir die naweek in die dorp was, sou iemand van die span by die treinstasie wag om hom te kry vir ‘n rugby wedstryd.


Oom Ampie was ook ‘n handelsonde-rwyser by HFM van 1969 tot 1973, en was selfs deel van die span onderwysers wat die eerste gras op die skool se rugbyveld geplant het! Sy tyd by HFM was vir hom baie opwindend en hy het graag vertel van sy dae as onderwyser en hoe die kinders hom op sy tone gehou het. Oom Ampie het vir baie jare HFM eerste rugbyspan afgerig en sal onthou word as een van die skool se grootste ondersteuners.


Na onderwys, het hy homself by Yskor Pretoria gevind en was as hoof van behuising aangestel. Maar steeds was rugby deel van sy lewe. Hy is ook met sy afsterwe ‘n adjunk-visepresident van die Blou Bulle Rugby Unie. Oom Ampie was ‘n bestuurder vir baie spanne; onder andere was hy aangestel as die skakelbeampte van die Ivoorkus rugbyspan tydens die 1995 rugby Wêreldbeker.


Verder was Oom Ampie ook die Springbokke se bagasie en logistiek bestuurder vanaf 1996 tot 2000 (‘n totaal van 60 toetse!) Hy het na die 2000 seisoen klaargemaak met Springbok rugby.
Na sy aftrede vestig Oom Ampie homself weer in sy geliefde Thabazimbi en raak betrokke as die Thabazimbi rugbyvoorsitter.

Later het hy ook saam met die Waterberg streekspan getoer in Rusland. Hy het diep spore in die wêreld van rugby getrap, maar buite sy passie vir die sport was hy ‘n ook geliefd en bekend vir die persoon wie hy was.  


Hy laat twee dogters, ‘n seun en ses kleinkinders na.


Die kinders sal hom onthou as die oom wat altyd tyd gemaak het vir almal om hom, en iemand wat altyd ‘n geselsie aangeknoop het.


Sy begrafnis het op 18 Februarie 2023 plaasgevind vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk, Vliegepoort. As gevolg van die merkwaardige man wat hy was, het mense van heinde en vere gekom om hom te groet.

Oom Ampie le Roux (links) en die bekende Springbok rugbyspeler Toks van der Linde.

#FosteringASenseOfCommunity