Community

Medhof Apteek; ‘n pilaar van 50 JAAR

13 February 2023 · Platinum Bushvelder

Medhof Apteek; ‘n pilaar van 50 JAAR

Thabazimbi – Vriendelikheid en behulpsaamheid is voorwaar ván die gevoelens wat jou gaan aansteek by Medhof Apteek. “Die professionele en eerbare atmosfeer by Medhof Apteek is een van die redes hoekom ek my werk geniet,” is die woorde op die personeel se lippe. Gelukkige personeel skep ‘n gelukkige werksomgewing en dit vryf onmiddellik op die kliënte af—veral vir kliënte wat klaar nie lekker voel wanneer hul instap nie.


Platinum Bushvelder het op Vrydag 3 Februarie 2023 meer uitgevind oor die apteek wat aan almal se gesondheidsbehoeftes voorsien.
Medhof Apteek se wenresep is geskep deur 50 jaar se diens aan die Thabazimbi gemeenskap. Eers bekend as Le Roux Apteek in 2de Laan, het  Medhof Apteek geleidelik gegroei, en geskuif na waar die apteek vandag staan.
’n Gesertifiseerde opname van oor 500 persone het getoon dat 90% van hulle kliënte gelukkig is met Medhof Apteek se dienste. Bo en behalwe die besonderse diens van personeel, is daar nog vele meer rede vir Medhof Apteek kliënte om te glimlag...


Gerieflike ure
Maandae tot Vrydae, maak Medhof Apteek se deure om 07:00 oop in die oggend, en sluit eers 18:00 in die aand. Dit gee kliënte die kans om voor—of na—werk, voor skool, of voor die hitte, besoek af te lê, en is veral nuttig in tye van nood. Die apteek is ook oop op Saterdae vanaf 08:00 tot 18:00, en Sondae en vakansiedae van 08:00 tot 13:00, en weer van 16:00 tot 18:00.


Die Alpha Clin gesondheidskliniek
Suster Maria Woest is hier aan stuur. Sy is hoogs gekwalifiseerd met jare se ondervinding. Kom toets gereeld jou bloeddruk, bloedsuiker, cholesterol, of prostaat (PSA). Sy help ook met borsondersoeke en nog baie meer. Dit is belangriker as wat jy besef, en jy sal dadelik verwys word indien nodig.


‘n Volledige toegeruste gehoorsentrum by Medhof Apteek
Klankgrens voorsien gehoortoetse sowel as gehoorapparate en dienste. Het jy geweet jou mediese fonds sal die kostes dek in meeste gevalle? Kobus van der Nest en Surika Rabe is die volledige gekwalifiseerde gehoordeskundiges.


Die resepteer afdeling
Dié is deel van Medhof Apteek se trots! Die resepteer afdeling is ‘n voorkeurverskaffer van meeste mediese fondse. Jy sal meestal geen (of geringe) bybetalings hê as jy die generiese produkte kies soos deur jou mediese fonds aanbeveel. Met twee gekwalifiseerde aptekers en vier assistente, is die diens vinnig en professioneel. Al vier assistente is geregistreer by die Suid-Afrikaanse Aptekersraad met voldoende aptekersbystand kursusse.


Afleweringsdiens
Het jy geweet dat Medhof Apteek se afleweringsdiens gratis is? Jy kan die apteek WhatsApp op 064 932 2722 om jou bestelling te plaas. Daarna word dit vinnig opgemaak en afgelewer.


Skryfbehoeftes afdeling
Laaste maar nie die minste nie spog die apteek met ‘n volledige skryfbehoeftes afdeling! Daar is natuurlik ook ‘n puik fotostaat en fotodruk afdeling beskikbaar wat help met ID foto’s en nog meer.


Iets interessant vir die ouer garde!
Wie onthou nog vir Oom Seef le Roux, stigter van Le Roux Apteek ? Sy dogter Zoë volg hom op, daarna verander die naam na Medhof Apteek. Die volgende opvolgers sal soet herinneringe vir baie mense wees. Oom Seef, toe sy dogter Zoë le Roux, daarna Arrie en Amanda Trouw, opgevolg deur Peet Rheeders. Daarna neem Danie van Niekerk die leisels oor en nou is Danie se dogter, Driansu van der Nest die eienaar en aan stuur van sake. Daar sal vir baie, baie mense bekende persone in hierdie aptekersbloedlyn raakgesien word.


Nog ‘n interessante feit!
Medhof Apteek se huidige personeel het gesamentlik 350 jaar se ondervinding in die bedryf—wees gerus, jy is in goeie hande!

Klankgrens gehoorsentrum se gehoordeskundige Surika Rabe.
Die Medhof Apteek span.
Van links: versorgers van die Thabazimbi gemeenskap; apteker Danie van Niekerk, suster Maria Woest, apteker Driansu van der Nest, en gehoordeskundige Kobus van der Nest.

#FosteringASenseOfCommunity