LAERSKOOL THABA GROET LEGENDES

Thabazimbi – ‘n Gemiddelde onderwyser deel mee, ‘n goeie onderwyser verduidelik, ‘n buitengewone onderwyser demonstreer, maar ‘n merkwaardige onderwyser inspireer.
Laerskool Thabazimbi het op Vrydag 25 November 2022 aangekondig dat hulle vyf voorbeeldige en standvastige personeellede aan die einde van 2022 gaan groet.
- Juffrou Cecile Venter was 41 jaar werksaam by die skool.
- Juffrou Elna Massyn was 30 jaar werksaam by die skool.
- Juffrou Hanti Vorster was 20 jaar werksaam by die skool.
- Juffrou Louise de Beer was 18 jaar werksaam by die skool.
- Juffrou Leane Heyneke was vir ‘n jaar by die skool.
Baie lede van die gemeenskap het die eer gehad om in hierdie onderwyseresse se klasse te kon sit, en hulle almal was bekend vir die ekstra myl wat hulle vir die kinders gestap het.
Laerskool Thabazimbi wil aan die onderwyseresse baie dankie sê vir hul inspirasie aan elke leerling en onderwyser tydens hul dienstermyn by die skool.
“U het op vele terreine diep spore getrap, en was merkwaardige onderwyseresse en leiers op u eie gebied. U visie en passie vir onderwys laat ‘n ryk erfenis vir die skool agter. U nalatenskap is van onskatbare waarde. Baie dankie daarvoor.
U optrede teenoor elke kind, personeellid, en ouer het altyd respek en waardering verdien. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ons weet Wie die toekoms in Sy hande hou.
Ons gebed vir u is dat die Here u elke dag sal seën. Mag u altyd werk in u hande hê. Mag u beursie altyd ‘n muntstuk bevat. Mag u ‘n huis hê met ‘n venster waardeur die son skyn.
Mag daar altyd ‘n reënboog na die reënbui wees. Mag God se liefde altyd u hart vul. Ons groet u!”
#FosteringASenseOfCommunity
