Schools & sport

2022 Rugby Kampioenskappe 

12 September 2022 · Platinum Bushvelder

2022 Rugby Kampioenskappe 

Nieu-Seeland vs Argentinië
Op die FMG Stadion in Waikato was die All Blacks in ‘n verwoestende bui ou grote. In gietende reën boelie die Kiwi’s meesterlik die Pumas met ‘n 53-3 telling.

In die proses druk hulle sewe drieë en behaal ‘n waardevolle bonuspunt. Die waarde van ‘n bonuspunt kan die uitslag van die reeks bepaal met al die spanne wat twee keer gewen en verloor het. Die All Blacks is op tien punte met die ander drie op nege punte elk.


Die All Blacks kom op Donderdag 15 September om 11:45 in Melbourne teen die Aussies te staan. Argentinië gaan op Saterdag 17 September om 21:10 teen die Bokke op die Estadio Jose Amalfitani Stadion in Buenos Aires uitdraf.


Australië vs Suid-Afrika
Die Bokke klop die Aussies 24-8 en behaal ook ‘n waardevolle bonuspunt vir die vier drieë wat hulle druk. Debutant op no. 14 jersey, Canan Moodie, maak ‘n droom buiging en druk ook ‘n skitterende drie na ‘n puik hangskop van Jaden Hendrikse. 


Teen die einde van die game het die humeure behoorlik opgevlam toe Mapimpi vir Koroibete vir oulaas groet. Eben Etzebeth het soos ‘n draak vuur gespoeg en die Aussie stut, Allan Alaalatoa, sal beslis nog nagmerries vir ‘n paar weke kry na die amperse straatgeveg.


Die Bokke is nou in Argentinië en gaan volgende Saterdagaand, 17 September, om 21:10 In Buenos Aires teen die Pumas uitdraf. 

Nag ou groene...

World Cup Sevens 
Vir die eerste keer sedert 1995, bied Suid-Afrika weer ‘n Wêreldbeker toernooi aan. Vanjaar is dit in die vorm van die Sewes, en skop af op Vrydag 9 September op die Kaapstad Stadion. 


Die toernooi word op ‘n uitklop basis beslis en 24 lande sal meeding. In die eerste rondte speel 16 spanne teen mekaar, waarna die wenners dan teen die top agt spanne in vier kwarteindstryde uitspeel. Die vroue speel ook in die toernooi en sestien lande is in aksie.


Die Blitse kon nog nooit die titel verower nie. ‘n Wen sal vir coach Neil Powell die grootste afskeid geskenk wees. Powell sluit aan by die Sharks as direkteur van Rugby na die afloop van die toernooi.
Die Blitse was baie teleurstellend in die laaste toernooi in LA vir die HSBC reeks en sal vergoed daarvoor in Kaapstad.

Verskeie sterre wat beseer was, is weer fiks verklaar en beskikbaar vir die tawwe maar opwindende toernooi. Vir die Blitse is die superster Cecil Afrika fiks en gereed – tesame met Selvyn Davids, Ronald Brown, Christie Grobbelaar en Mfundo Ndhlovu.

Vorige wenners in die finale:

  • 1993 – Edinburgh | Engeland 21-17 Australië
  • 1997 - Hong Kong | Fidji 24-21 Suid-Afrika
  • 2001 - Mar del Plata | NZ 31-12 Australië
  • 2005 - Hong Kong | Fidji 29-19 NZ
  • 2009 - Dubai | Wallis 19-12 Australië
  • 2013 - Moskou | NZ 33-0 Engeland
  • 2018 - San Francisco | NZ 33-12 Engeland
  • 2022 - Kaapstad 

Go Blitsies!
(en ook vir ons vinnige sussies!)

#FosteringASenseOfCommunity