Schools & sport

Rainbow Beker Finaal

25 June 2021 · Platinum Bushvelder

Rainbow Beker Finaal

Benetton vs Bulls
Dewaldt Duvenage lei sy Benetton span tot ‘n merkwaardige oorwinning van 35-8 oor die Bulls in Treviso. Kliniese ruggas deur die tuisspan het die besoekers verward laat voorkom. Die Benetton se haker, Corniel Els, het die Bulle voorlangs goed verniel. Hy was ‘n derduiwel en is ook beloon met ‘n puik drie. ‘n Tweede drie van Els is ongelukkig nie toegeken nie. 


Els was nog tot onlangs ‘n Pretorianer, jy sien... Die Bulle se losskakel, Chris Smith, het dalk met die ophardloopslag teen ‘n paal vasgehardloop en sy oogbank gestamp, wat potblou vertoon het. Want ai ou grote, die mannetjie speel maande lank goeie ruggas maar was ongelukkig in hierdie belangrike game heeltemal die kluts kwyt. 


Benetton wat nie eers regtig die beste klub in Europa is nie, het hierdie oorwinning verdien. Op die dag se spel was hulle eenvoudig in alle afdelings baas. 


Daar is bekend gemaak dat daar ‘n nuwe reeks in September sal afskop... naamlik die United Rugby Championship. Suid Afrika se vier spanne wat gaan deelneem sal beslis nou notisie geneem het dat die Noordelike halfrond spanne nie sussies is nie!

Super Rugby Trans Tasman Finaal

In Auckland wen die Blues vir die eerste keer in agtien jaar weer silwerware. In ‘n klipharde NZ derby klop die Blues die Highlanders met 23-15. 


Die wedstryd was ‘n tipiese eindstryd waar dit eerder oor die wen gegaan het, en nie om aanskoulike bonuspunt ruggas te jol nie. Maar die ruggas op die dag was steeds uit die boonste rakke. Met twaalf minute se speeltyd oor was die Highlanders 15-13 voor. Maar die laaste tien minute het die Blues die bal skielik wyd begin speel en teken tien punte aan. 


Ses spelers van die Blues is in die All Blacks opgeneem. Een speler wat verdien om die Kiwi jersey oor sy kop te trek, is die yster flank Dalton Papalii. Hierdie jong man kan in die spore van Richie McCaw loop. 


Die All Blacks het ook hulle groep aangewys vir een toets teen Tonga, gevolg deur twee toetse teen Fidji. Die Crusader staatmaker slot, Sam Whitelock, is aangewys as die nuwe All  Black cappie. 

Nag ou grote...

Pumas vs Lions
In die Mbombela Stadium verras die Pumas en klop die Leeus in ‘n wille katgeveg met 39-10. Die Pumas se hardebaarde was net te veel vir die katjies van Jo’burg. Die Leeus se swak dissipline het ook bygedra tot hul pakslae. Jimmy Stonehouse sê die Pumas gaan beslis hard brul hierdie seisoen. Die Pumas speel Vrydag om 19:00 teen die Bulle in Pretoria.

Bulls vs WP
Op Loftus gryp WP die kans aan om in die afwesigheid van die Bulle se uitsoekspan die jong outjies behoorlik te boelie ou grote. Die Blou Bul span wat Saterdag uitgedraf het, was die jongste gemiddelde ouderdom span wat nog in ‘n Curriebeker game gespeel het... 21 debutante! Die Kapenaars moet weet in die tweede rondte gaan dit ‘n koei van ‘n ander kleur wees as die ou hande weer in die Curriebeker span terug is.


Die nuweling haker van WP, JJ Kotze, het seker nie Saterdagaand deurgeslaap nie. Hierdie fris jongman het in sy debuut game nie minder as vier drieë gedruk nie! Dit is beslis ‘n rekord in SA ruggas. Dan is daar ‘n nuwe ster op die horison. Evan Roos wat op agsteman uitgedraf het, was die hele veld vol en is ook beloon met ‘n puik drie. Hoe die Haaie dié outjie laat gaan het, sal net hulle weet. Roos is nie net vinnig nie, maar is ook ‘n dodelike verdediger. Springbok in wording! 

Griekwas vs Sharks
In Kimberley wen die Haaie met ‘n bonuspunt, maar die eindtelling van 30-16 in hulle guns vertel nie regtig die verhaal van die stryd nie.

Die Griekwas was baie beter as wat die telbord gewys het. Vir die Haaie het hulle nuwe cappie en agsteman, Phepsi Buthelezi, ‘n droom debuut gehad. Hy lei nie net sy span tot ‘n oorwinning nie, maar speel self kookwater ruggas. Die Griekwas speel Saterdag tuis teen die Cheetahs.