Schools & sport

Curriebeker 20/21 Semi-Finale

1 February 2021 · Platinum Bushvelder

Curriebeker 20/21 Semi-Finale

Bulle vs Leeus
Op Loftus het die kwik tot 36°C gestyg en die gemoedere seker tot 46°C ou grote. Dit was helwarm en gelukkig was daar na 20 minute ‘n waterbreek tot lafenis van stomende bulle en leeus. Die Bulle het met halftyd 11-0 voorgeloop. 

Die Jo’burgers het hard geveg in die tweede helfte en met twee puik drieë teruggeslaan. Met die telling op veertien elk was die vet in die vuur! Twee geelkaarte deur Rasta aan die Leeus het hulle laat knak en natuurlik oortollige strafskoppe was die begin van die einde... Vir die Bulle het die yster Duane Vermeulen van vooraf gelei en met verwoestende stormlope die Leeus gekarnuffel. Die Bulle wen 26-21 en dring dan deur tot die finaal wat op Saterdag 31 Januarie 2021 om 15:00 teen die Haaie op Loftus gespeel sal word.

WP vs Haaie
Hartseer verhaal, treurmare in die Kaap, vlae hang halfmas en nou is die wyn regtig klaar. Op die geliefde Nuweland verloor die WP die laaste rugga game wat op dié grond gespeel is. Die Haaie was op die dag die beste span en honger vir die wen. Die speler van die reeks tot dusver, Curwin Bosch, het weer nie teleur gestel nie en het die Kapenaars dronk geskop en gespeel. Hierdie jong losskakel was briljant en gaan met baie selfvertoue Loftus toe ou grote. Die Haaie wen 19-9 en dring dan deur tot die finaal waar hulle teen die Bulle in Pretoria sal uitdraf. 

Die Durbaniete het hulle man gestaan teen die hoogaangeskrewe WP agttal en daar is die game gewen. Die Haaie het gewys hulle laat hulle nie boelie nie en word nie bang gepraat nie. Die Bulle op Loftus moet seker as die gunstelinge beskou word, maar die Haaie het nog altyd daarvan gehou om die Bulle daar te verras. Nat en reënerige weer word voorspel en dit gaan die losskakel wat die omstandighede die vinnigste opsom die een hand op die Beker gee. 

Baie, en sommer baie goeie nuus is dat die ref vir die finaal Jaco Peyper gaan wees. Kom ons hoop en vertrou die TMO se visie gaan deur die mistigheid belemmer word nie en dat geregtigheid sal koning kraai. ‘n Riller gaan dit gewis wees, die tafel is gedek vir ‘n geskiedkundige Januarie Curriebeker Finaal. Mag rugby en sportmanskap die wenners wees!

Nag ou grote...