Currie Cup 2020

Pumas vs Griekwas
In die Mbombela Stadion in Nelspruit klop die Pumas die Griekwas 22-17 in ‘n baie opwindende game. Die Pumas se agttal was die platform tot die oorwinning en het goeie balle vir die agterlyn gegee om breuke te slaan. Die Pumas moet Kaapstad toe reis vir hulle volgende game teen die WP. Die Griekwas het ‘n loslootjie hierdie naweek.
Bulle vs Cheetahs
O aarde ou grote!... Die Bulle het op Fort Loftus groot horings gewys en gaffel die Cheetahs behoorlik. Die Pretorianers wen 40-13 en bra Jake se smile raak al hoe groter... en hy mag maar, want die Bulle speel kookwater ruggas. Marco van Staden was weer ‘n yster op die losballe en is ook beloon met twee drieë. Die blikore wat die verdedigende kampioen is, het baie werk wat voorlê maats. Die Bulle speel volgende teen die Haaie in Durban. Die Cheetahs speel tuis teen die Leeus.
Leeus vs WP
In Jo'burg verras die Leeus ons en klop die WP in ‘n naelbyter 22-19. Dit was ‘n baie goeie rugga game ou grote. Die Leeus was meer honger as die Kapenaars vir dié een en het hard geveg in alle fasette. Maar die dag het behoort aan twee jongelinge.
Die nuwe heelagter van die Leeus, Tiaan Swanepoel het gewys hy het ghoenas van staal. Hy slaag komkommerkoel met vyf strafdoele, waarvan een ‘n reuse skop van 64 meter is! In die doodsnikke van die game het Swanepoel die wenpunte aangeteken met die telling 19 elk. Verder het die kookwater vleuel, Stean Pienaar, ‘n onvergeetlike drie gedruk. ‘n Strafskop is aan die Leeus toegeken net buite die WP se kwartgebied en die yster gee ‘n tikskoppie en vang die WP se verdediging vas aan die slaap vir 'n droomdrie. Die Leeus reis Bloemfontein toe vir 'n katgeveg teen die Cheetahs. Die WP speel tuis teen die Pumas.
Tri-Nations
- Australië 16 - 16 Argentinië
- Die All Blacks is dan die 2020 kampioenspan!
Autumn Cup
- Wallis 38 - 18 Italië
- Ierland 31 - 16 Skotland
- Georgia 24 - 38 Fidji
- Engeland 22 -19 Frankryk
Net voor die groetery...
Die beste internasionale speler en rugby span van die laaste dekade is aangewys. Die speler van die dekade is die gewese cappie van die All Blacks Richie McCaw wat ook die kaptein van die elite span is. Drie Springbokke is ook vereer om deel te wees van die elite span, Bryan Habana, Tendai ‘Beast’ Mtawarira en Bismarck du Plessis. Cool of wat?
Nag ou grote...
