Schools & sport

Currie Cup 2020 – afskop!

5 December 2020 · Platinum Bushvelder

Currie Cup 2020 – afskop!

Haaie vs Pumas
In Durban was die Haaie se vinne in die lug en kuier sewe keer agter die Pumas se doellyn om sodoende met 45-10 gemaklik te wen. Dit was nie die Pumas se volsterkte span nie, maar die Haaie sal nie kla oor die vyf punte wat hulle verdien het nie. Die Haaie het in die volgende ronde ‘n loslootjie. Die Pumas draf Vrydagaand in Nelspruit uit teen die Griekwas.

Leeus vs Griekwas
Moeder natuur speel toe weer skeidsregter toe die game in die 47ste minuut moes staak weens dreigende storms. Met rustyd was die Leeus 3-17 agter maar het verwoed ingeklim met die afskop van die tweede helfte om met 20-17 voor te loop voor die game gestop is. Net twee minute voor die eindfluitjie geblaas het, is daar ‘n strafdrie aan die Leeus toegeken. Die Leeus speel Saterdagaand teen die WP op Ellispark en die Griekwas reis Nelspruit toe om teen die Pumas uit te draf.

WP vs Bulle
In die amptelike laaste Curriebeker game ooit op Nuweland, behaal die Bulle ‘n merkwaardige oorwinning om vir die eerste keer in 11 jaar die WP dáár te klop... En wat die oorwinning nog lekkerder maak, is die feit dat die Bulle die laaste 37 minute net met 14 manne moes speel, danksy die belaglike beslissings deur beide die ref en TMO. Die rooikaart wat aan Jacques van Rooyen toegeken was vir ‘n beweerde gevaarlike duikslag – is lagwekkend en pateties! Die WP reis Saterdag Jo'burg toe om teen die Leeus op Ellispark uit te draf. Die Bulle speel op Loftus teen die Cheetahs om 16:30.

 

Tri-Nations
In Newcastle, noord van Sydney, daag ‘n beneukte klomp Kiwi's op en verneder die Pumas met 38-0. Die All Blacks word nie sommer twee keer agtermekaar deur dieselfde span geklop nie ou bul!

Met hierdie groot punte verskil is dit dan ook 99% seker dat die All Blacks die Tri-Nations Trofee verower. Die Aussies moet feitlik die onmoontlike vermag en die Pumas met 101 punte klop om die trofee te verower – ten spyte van die Puma cappie, Pablo Matera, wat tydelik geskors is oor rassistiese aantygings in 2011 en 2013. Soos die wyses by die braaivuurtjie dit sal stel: het die Aussie bestuur ‘n beter kans om swanger te word as om die teiken te haal.

Die All Blacks se huldeblyk en respek aan die ontslape Diego Maradona, superster van Argentynse sokker, was roerend. Cappie Sam Cane het op die einde van die haka vorentoe gestap en 'n All Black nommer 10-trui wat deur die Kiwi spelers geteken was, op die middellyn gaan neersit voor die Argentyne.

Autumn Cup

  • Ierland 23 - 10 Georgia
  • Frankryk 36 - 5 Italië
  • Wallis 13 - 24 Engeland

Engeland en Frankryk speel Sondag teen mekaar vir die wen van die Autumn Cup 2020.

** Dan het Nigel Owens die merkwaardige prestasie behaal om vir die 100ste keer die fluitjie te blaas in toetsrugby. Die eerste ref ooit wat dit kon vermag. Hy is tans ook in elk geval die beste ref by verre op die rugga planeet.

Nag ou grote...