Headlines

Coenie kry ‘n tweede kans

7 December 2020 · Platinum Bushvelder

Coenie kry ‘n tweede kans

Thabazimbi – Op Maandag 23 November is Coenie Els ernstig beseer toe hy met sy motorfiets in ‘n kop-aan-kop-botsing met ‘n trok betrokke was.

Hy het agt gebreekte ribbes, snye in sy been, ‘n gebreekte blad, long en blaas beserings opgedoen in die ongeluk en is na ‘n staatshospitaal vir behandeling vervoer. Nadat hy van bakboord na stuurboord gestuur is tussen twee staatsinstansies het sy meisie, Elizma Herbst die gemeenskap gevra vir hulp sodat hy na ‘n privaat instansie oorgeplaas kon word.

In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder vertel Coenie: “Ek het gedink ek gaan doodgaan. Elizma het net nie opgegee nie en sy het alles in haar vermoë gedoen om ‘n plan te maak sodat ek oorgeplaas kon word.”

Die Thabazimbi gemeenskap en plaaslike motorfietsklubs het op Elizma en Coenie se noodkreet op sosiale media gereageer en geld begin bydra tot sy mediese onkostes. Teen Vrydag was Coenie se tassies gepak en hy was oppad na Mediclinic Thabazimbi. “Toe die twee paramedici by die hospitaal opdaag om my te kom haal, het ek gedink ek droom,” aldus Coenie.

Dit gaan tans baie beter met Coenie, maar daar is nog ‘n lang, duur herstelpad vorentoe en intussen hoop die mediese rekeninge steeds op.

“Ek wil baie dankie sê aan elke persoon wat my gehelp het sover. Julle het my weer moed gegee om aan te gaan deur my ‘n tweede kans te gee om te lewe. ‘n Baie spesiale dankie aan die motorfiets gemeenskap, ek is trots om deel van julle te wees. Daar is werklik ‘n fantastiese broederband onder julle,” sê Coenie.

Indien jy ‘n bydra wil maak tot Coenie se mediese rekeninge, kan betalings direk in Mediclinic se rekening inbetaal word met die verwysing C. Els of Coenie Els.

  • ABSA Bank
  • Mediclinic Thabazimbi
  • Rekeningnommer: 4049729154
  • Tak kode: 630 345
Coenie Els is tans in Mediclinic Thabazimbi na ‘n motorfiets ongeluk.