Headlines

Nala veilig tuis

17 July 2020 · Platinum Bushvelder

Nala veilig tuis

Thabazimbi – Die Wentzel-gesin se huis is geleë op die hoek van Sesdelaan en Van der Bijlstraat in Thabazimbi. Hul woning grens aan die steilste deel van Van der Biljstraat se opdraand. Voertuie verloor telkens spoed teen die bult uit, loop agteruit, verloor beheer en bars dan deur hul heining. Die heining is reeds vier maal in die verlede herstel en dit is nou die vyfde keer wat hul ‘n eis by die versekering moet indien vir presies dieselfde probleem. 

Op Saterdag, 4 Julie om ongeveer 14:00 die middag, het ‘n voertuig vir die hoeveelste keer deur hul palissade gebars. Die eis is ingedien by die versekering, maar die proses neem gewoonlik maande. Intussen is die heining ‘n gapende opening wat toegang vir ongewensde faktore bied.

Twee pit bull terriers het deur hierdie gat toegang verkry tot die erf en om ongeveer 02:00 die nag van 12 Julie, het die Wentzels se buurvrou, Melanda van der Walt, honde hoor baklei en tjank. Sy het ondersoek ingestel en gesien dat twee pit bulls, een donkerbruin en een lig van kleur, besig was om hul geliefde Golden Retriever, Nala, wreed aan te val. 

Melanda kon nie daarin slaag om hulle te verwilder nie en het in die huis gaan soek vir iets waarmee sy hulle die skrik op die lyf kon jaag. Haar tweede poging was egter weer onsuksesvol. Die honde wou nie vir Nala los nie. 

Melanda het vir Nala probeer nader roep en is weer in die huis in om ‘n alternatief te probeer vind om die twee pit bulls te probeer verdryf. Toe sy weer buite kom, het al die honde verdwyn. Sy het na Nala geroep, maar kon haar nie vind nie.

Elmarie en Vihan Wentzel was nie die naweek tuis nie en het vir Nala in die sorg gelaat van die inwonende huurder. Melanda het Sondagoggend vir Elmarie gebel en ingelig van die insident. Sy en Rowan Alcock, die huurder, het die erf gefynkam, maar kon vir Nala nêrens vind nie. Elmarie het vir Thane Hearne gekontak en sy het ook help soek na Nala – sonder sukses.

Hierna het sy die veeartse en vir Tania Cambell van Thabazimbi Animal Rescue (TAR) gekontak om vas te stel of ‘n beseerde hond nie dalk by hulle uitgekom het nie. Tania en Medivet se Louis Greeff het dadelik Facebook- plasings gedoen om die gemeenskap te vra vir hulp om Nala te vind.

Nico en Anita Engelbrecht het ook uitgevind dat Nala vermis is en het dadelik  oral in die omgewing  na haar begin soek. Ganadiglik het Anita aangedring daarop om die takke wat die stormwaterpyp aan die onderkant van die erf versper het, weg te sny sodat sy binne-in die pyp kon inkyk met ‘n flitslig. Uiteindelik het sy beweging gesien, ongeveer 100m verder in die pyp af. Nala het skuiling gesoek onder die rooster wat die stormwatersloot bedek aan die oorkant van die pad.

Dit was onmoontlik om die rooster gelig te kry. Tokkie Swanepoel is gekontak om te help om toestemming van die munisipaliteit se kant af te kry om die rooster oop te maak. Tokkie was dadelik op die toneel en het vir Gomba Uniform, ‘n ketelmaker van beroep, gaan haal. Intussen het Gerrie Raubenheimer en Org Bezuidenhout ook by die reddingspan aangesluit en ‘n spanpoging is in werking gestel om vir Nala te bevry.

TAR het gereël met Louis Greeff en Nico en Anita het haar veilig by Medivet besorg.

Nala het ernstige beserings opgedoen en is met die grootste liefde versorg by die veearts. Sy is tans veilig tuis.

Die ongelooflike reaksie van die gemeenskap is werklik ‘n riem onder die hart. Elmari en Vihan het dadelik teruggery van Pretoria af om vir Nala te help soek, maar teen die tyd wat hul in Thabazimbi aangekom het, was Nala reeds veilig by die veearts. 

Die Wentzel-gesin wil hul opregte dank teenoor hierdie vrywillige, goedhartige en uiters bekwame span reddingswerkers uitspreek: Org Bezuidenhout, Gerrie Raubenheimer, Nico en Anita Engelbrecht, Tokkie Swanepoel, Gomba Uniform, Melanda van der Walt, Rowan Alcock, Tania Cambell, Magda Steward, Thane Hearne en Medivet Dierekliniek.

Na sy deur twee honde aangeval is, het Nala skuiling gaan soek in ‘n stormwaterpyp.
Nala se redders moes die rooster afsny om haar uit te kry.
Nala het ernstige beserings opgedoen maar was soos goud opgepas by Medivet Dierekliniek.