/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Articles
Headline News
26 June 2026

Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Ná ses dae van wind, reën, mis en onsekerheid is die geliefde African Grey-papegaai, Appelkoos, op wonderbaarlike wyse met haar familie herenig.

Vir Sunell en Jaco Coetzee en hul kinders was die afgelope week een van hoop, gebede en bekommernis nadat Appelkoos op Donderdagoggend 18 Junie 2026 onverwags uit hul huis gevlieg het.

“Ek was besig om koffie in die kombuis te maak toe sy vir iets geskrik het. Dit kon die wind of een van die honde gewees het. Voor ek my kon kry, was sy by die agterdeur uit en in die lug,” vertel Sunell.

Appelkoos, ’n negejarige African Grey, is sedert 2023 deel van die Coetzee-gesin nadat haar vorige eienaars moes verhuis. Sunell het haar met ope arms verwelkom en vir haar ’n liefdevolle tuiste gegee. Interessant genoeg was haar naam aanvanklik Koos, omdat almal gedink het sy is ’n mannetjie. Ná ’n DNA-toets is ontdek dat sy eintlik ’n wyfie is, waarna sy die naam Appelkoos gekry het.

Toe Appelkoos vermis raak, het die gemeenskap vinnig saamgespan om te help. Sunell het onmiddellik vir EcoVet in kennis gestel, wat een van die eerstes was om die nuus op Facebook en WhatsApp te versprei. Die soektog het vinnig momentum gekry en plasings is daagliks gedeel in die hoop dat iemand haar sou sien.

Die deurbraak het op 23 Junie gekom toe Pastoor Nico Samons en sy vrou, Joyce Samons, by die Checkers-sentrum was. Joyce, self ’n liefhebber van African Grey-papegaaie, was reeds bewus van die plasings oor die vermiste voël. By die sentrum het hulle gehoor van ’n African Grey wat op ’n paal naby die Windpomp Koffiewinkel sit. Die eienaars is onmiddellik gekontak en mense het probeer om Appelkoos nader te lok.

’n Jong seuntjie wat saam met sy ma daar was, het gehoor hoe mense die voël se naam roep en het begin saamroep. Tot almal se verbasing het Appelkoos positief op die kind gereageer en nader beweeg. Toe die voël later weer wegvlieg, het Pastoor Nico haar dopgehou en seker gemaak dat voertuie haar nie raakry nie. Toe sy terugkeer, het hy sy kans gewaag en Appelkoos het rustig op sy arm geklim.

Kort daarna het die Coetzee-gesin opgedaag. “Ons het haar dadelik herken. Sy was so rustig, al was daar baie mense rondom haar,” vertel Sunell.

Die hereniging was uiters emosioneel. “Sy het dadelik na my toe gekom. Ek het haar vasgedruk en gesoen soos ek altyd doen. Toe sy daarna na ons oudste seun, Rowan, toe gaan, het ek geweet dit is beslis ons Appelkoos.” Vir Rowan was die oomblik oorweldigend. “Hy het haar vasgedruk, gesoen en toe in trane uitgebars terwyl hy haar teen sy bors vasgehou het,” sê Sunell.

Ná ses dae waarin Appelkoos die winterweer moes trotseer, beskryf die gesin haar terugkeer as niks minder as ’n wonderwerk nie. “Ons is ongelooflik dankbaar vir elke persoon wat gehelp het, die plasings gedeel het en vir haar uitgekyk het,” sê Sunell.

Appelkoos is nou weer veilig by die huis en sal binnekort vir EcoVet besoek om haar vlerke te laat knip. Vir die Coetzee-gesin is haar terugkeer ’n bewys dat wonderwerke steeds gebeur – en dat hoop nooit opgegee moet word nie.

Foto: Ná ses dae van spanning en onsekerheid gee Rudan vir Appelkoos ’n liefdevolle nagsoen – dankbaar dat hul geliefde papegaai weer veilig tuis is.

Share this article with a friend...