/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Articles
Social & Community News
29 August 2025

Pilanesberg / Thabazimbi – Op 19 Augustus 2025 het dertien afstammelinge van die Cronjé-familie mekaar by die vyfster Shepherd’s Tree Lodge in die Pilanesberg Wildreservaat ontmoet – ’n samekoms wat diep geskiedenis en geslagte se herinneringe weer aan die lig gebring het. Die plek van ontmoeting was nie sommer enige plek nie: Shepherd’s Tree staan vandag op die grond van die voormalige Cronjé-plaas Tussenkoms. Hier het die Cronjés dekades gelede geboer, mielies geplant en beeste aangehou – lank voordat dit deel geword het van die Pilanesberg Nasionale Park.

’n Familie met wortels in die noorde
Die Cronjés se wortels lê wyd en diep – van Swartruggens, Dwaalboom en Beestekraal tot Rooiberg en natuurlik Thabazimbi, waar van die familie steeds woon en boer. 

Die geskiedenis loop egter nog verder terug: Samuel Jacobus Cronjé (1864–1945), ’n nasaat van Pierre Cronier, een van die Franse Hugenote wat in 1698 aan Kaapland voet aan wal gesit het, is presies 80 jaar gelede te Sandrivierspoort begrawe. Hy het met twee huwelike ’n reuse nageslag van 24 kinders gelaat – ’n sterk bloedlyn wat vandag nog voortleef.

’n Samekoms vol onthou
Die reünie is uit die Strand in die Wes-Kaap gereël deur dr. Ernest Austin Adams, ’n agterkleinseun van oupa Samuel. Danksy ’n vinnig-groeiende WhatsApp-groep en besoeke regoor Gauteng, Limpopo en Noordwes, is die byeenkoms op kort kennisgewing ’n werklikheid gemaak.

Die lodge-eienaars, Andy Simaan en Kagiso Pilane, het saam met die ervare Pilanesberg-veldkenner Stephen Dell vir die Cronjés ’n onthoubare dag voorberei. Die familie is met tradisionele sang, dans en tromslag verwelkom en later op wildritte geneem, selfs onder begeleiding van die renoster-teenstropingseenheid.

Vir baie was dit ’n emosionele oomblik toe Lizzie Schutte (84), kleindogter van Samuel, die ou plaashuis en rondawel se plek op die berg onthou het – vandag vervang deur bosveld en wild.

Van grafte tot grootfees
Die konvooi het ook by ou begraafplase stilgehou – stille getuies van die pioniersgesinne wie se plase destyds in die reservaat opgeneem is. Later het die familie onder ’n afdak by die Pilanesberg-sentrum piekniek gehou en stories gedeel.

Die dag is afgesluit met ’n driegang-feesmaal en ’n klomp nuwe herinneringe. Nommers is uitgeruil, video’s gemaak en die belofte om weer te ontmoet het in die lug gehang.

Samehorigheid oor geslagte heen
“Die ervaring was verrykend en het ons herinner dat ons oor geslagte heen steeds ryklik geseënd is,” was die algemene gevoel. Die Cronjé-samekoms het weereens bevestig dat bloed onkeerbaar bly kruip waar dit nie kan loop nie.

Main photo: ’n Historiese foto van stamvader Samuel Jacobus Cronjé (1864–1945) saam met sy agt oorlewende kinders, geneem by die begrafnis van sy tweede vrou, Johanna Elizabeth Albertina (née Botha) Cronjé (1880–1938).

’n Kosbare oomblik van oorlewering: Lizzie Schutte, kleindogter van Samuel Cronjé, wys vir dr. Ernest Adams, sy agterkleinseun, die kloof waar haar ma – Tant Soes – destyds ’n luiperd die stryd aangesê het.
Die trotse Cronjé-familiewapen – ’n simbool van sterk wortels en samehorigheid – vertoon by die Cronjé-samekoms by Shepherd’s Tree Lodge.
Die Cronjé-groep bring hulde by ’n historiese begraafplaas in die Pilanesberg, waar pionierboere se nalatenskap steeds voortleef.
’n Gesamentlike foto van die dag se spilpunte: dr. Ernest Adams, organiseerder van die samekoms, saam met lodge-eienaar Andy Simaan en veldkenner Stephen Dell.
Stephen Dell, ervare veldgids en bekende wildlewe-kenner van die Pilanesberg, deel sy ryk kennis en stories met die Cronjé-afstammelinge.
Gasvryheid in ware vyfsterstyl: Die Cronjé-afstammelinge word bederf met verversings by Shepherd’s Tree Lodge. (van links: dr. Ernest Adams, Martie van der Walt, Lizzie Schutte, Pieter Schutte, gids Stephen Dell, Michelle Adams, Hanique Meyer, Rudolph Meyer, Santie Gildenhuys, Piet Cronjé, Susan van der Westhuizen, Adri Cronjé, Engela Cronjé en Fanie Cronjé.)

Share this article with a friend...