Articles
Social & Community News
17 November 2021

Thabazimbi/ Northam – Die Solidariteit Northam/ Thabazimbi tak het op Vrydag 5 November die voorreg gehad om 201kg vleis uit te deel aan verskeie organisasies in Thabazimbi en Northam.


Hierdie donasies is moontlik gemaak deur Solidariteit Helpende Hand se HelpJag projek. Jagters het weer hul harte en hande oopgemaak om voorsiening te maak vir die minderbevoorregtes van die gemeenskap. Numzaan Safaris se eienaar Stef Swanepoel het alle skenkings gratis verpak om uitgedeel te word.  


“Die effek wat hierdie skenking het, raak die hartsnare van enige iemand betrokke. Om deel te kan wees van so ‘n skenking is voorwaar ‘n voorreg, om te weet jy kan deel wees om iets op iemand se tafel te kan sit. Om die opregte waardering en dankbaarheid van die mense te sien, maak dit nóg meer die moeite werd,” aldus Solidariteit Helpende Hand Northam/Thabazimbi tak voorsitter René Jansen. 


Bosveld Oord, Tambotie Versorgings Sentrum en Huis Immergroen het elkeen vleisskenkings ontvang. Nog skenkings het gegaan vir Barbara Pienaar wat ook betrokke is by Tambotie Versorgings Sentrum en die bejaardes wat in die  SASSA huise woon. In ‘n ware voorbeeld van kameraadskap – Barbara het onlangs ‘n ander groot skenking ontvang en haar donasie aan Thabazimbi Homeless Shelter oorhandig.


Thaba Sopkombuis sowel as Northam se sopkombuis wat deur Sanet Maasberg behartig word, het ‘n skenking ontvang asook SAVF Thabazimbi. Die Ghost Riders Motorbike Club het hul skenking ook tussen die ouetehuise verdeel. “Hierdie skenking beteken regtig baie; vleis is so duur, nou kan ons darem weer sorg vir vol magies, baie dankie!” aldus Sanet Maasberg.


In Northam is verskeie skenkings gemaak aan die kerke om ook te voorsien aan hulle behoeftiges in hul gemeentes. NG Kerk Northam dominee Marius Hunter sê: “Die Here voorsien altyd, regtig baie dankie.”

Hoe werk die HelpJag projek?

Stap 1: Skenk
Jy kan ‘n finansiële bydrae maak en kies hoeveel porsies jy wil skenk, of jy kan ‘n bok skenk. 
Stap 2: Jag
Indien jy ‘n bok wil skenk, vul die besonderhede van jou opkomende jagtog op hul webtuiste in. Al die besonderhede word outomaties na die veldtog-administrateur gestuur. Die HelpJag-span sal jou so gou moontlik kontak en die nodige reëlings tref.


Stap 3: Slaghuis Soekgids
HelpJag het ‘n netwerk van slaghuisvennote regoor Suid-Afrika. Jy kan die netwerk op hul webtuiste vind. Indien die slaghuis van jou keuse nie op die lys verskyn nie, kontak HelpJag sodat hulle die nodige reëlings met die betrokke slaghuis kan tref. Die jagter is verantwoordelik om die karkas tot by die slaghuis te vervoer.
Stap 4: Verwerking
Die slaghuis verwerk en verpak die vleis. HelpJag is verantwoordelik vir die verwerkingskoste tensy jy die verwerking ook skenk.
Stap 5: Verspreiding
Die verwerkte vleis word deur HelpJag versprei na behoeftige skole en/of instansies soos ouetehuise en dies meer.

Agter van links: Ghost Riders se Lizelle Herbst, David Gouveiea, Marietjie Hermann, Sanet Maasberk en Barbera Pienaar. Voor van links: René Jansen, Charline Gouveia en Danielle Gouveia. 

 

Share this article with a friend...