Articles
Social & Community News
08 March 2019

Thabazimbi – ‘n Dodelike hondesiekte bekend as distemper wek tans groot kommer. Daar is ‘n toenemende hoeveelheid gevalle aangemeld vanjaar. 


Hierdie siekte word veroorsaak deur ‘n virus wat hoogs aansteeklik is vir honde. Die virus word oorgedra deur middel van neusuitloopsel asook urine en mis. Die siekte kom mees algemeen voor in honde van drie tot ses maande, wat nie teen hondesiekte ingeënt is nie.


Die virus tas die asemhalingsisteem, dermkanaal, senuweestelsel en die vel aan. Soos met enige ander siektetoestand veroorsaak dit lusteloosheid en ‘n verlies aan eetlus.


Simptome: 

  • Koors
  • Oog- en neusuitloopsels
  • Hoes
  • Ooginfeksie en selfs blindheid
  • Braking
  • Slegruikende diarree
  • Velinfeksie en verdikking van die voetsole
  • Stuiptrekkings
  • Aborsies of doodgebore hondjies
  • Geboorte van baie swak hondjies
  • Onderontwikkeling van tandemalje


Honde wat met die siekte gediagnoseer word, kan met antibiotika behandel word vir die sekondêre bakteriële infeksie en dan ook simptomatiese behandeling ontvang vir die kliniese tekens soos diarree en stuiptrekkings. Die behandeling sal verskeie van die kliniese tekens verlig maar kan nie voorkom dat die virus die brein en beenmurg versprei en skade daar veroorsaak nie.

In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder het Medivet suster Jo-Mari Kotze gesê: “Dit is beter om honde in te ent teen die siekte, as om hulle na die tyd te behandel.

Die effek wat dit op die honde het, kan permanent wees. Voorkoming is beter as genesing.”


Daar word aanbeveel dat hondjies op ses, nege en 12 weke deur ? veearts ingeënt word. Daarna is ‘n jaarlikse skraag dosis nodig.


Indien jy vermoed dat jou hondekind dalk die siekte het, is dit van uiterse belang dat hy dadelik geskei word van ander diere en so spoedig moontlik by ‘n veearts uitkom.
Vir meer inligting skakel Medivet by 014 772 3323.

Share this article with a friend...