Articles
Sport & School News
08 March 2019

Thabazimbi – Van meet af het die 56ste bestaansjaar van die Bosveld interhoër, aangebied deur die gasheerskool Warmbad op 23 Februarie, beloof om ‘n titaniese stryd tussen die deelnemende skole te wees.

Die jaarlikse stryd tussen die buurdorpe het weereens belowe om vir naelbyt oomblikke te sorg – en dit het inderdaad in ‘n tweestryd om die kroon tussen Hoërskool Ellisras en Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) gegaan.


Die dirigentekorps moes as verdedigende kampioene letterlik die voete laat roer. Dit was ook HFM se tema vir die geleentheid: Frikkies roer jou voete!


Die atlete het met trots die vaandel op die veld gedra, onder leiding van hul spankapteine, Tachia van Wyk en Diehann Pretorius. Na die motiveringspraatjie van bekende Ystervrou atleet, Bev Baker, was daar nie ‘n tekort aan entoesiasme en vuur nie.


HFM atlete het 20 goue, 30 silwer en 20 brons medaljes ingeoes. Die o/14- en o/17 seuns aflosspanne het vir lekkerkry oomblikke gesorg met hul eerste plekke. Dit is egter ook die vierde-, vyfde-, sesde- en sewende plekke wat die span in die wedloop gehou het – hierdie atlete was ‘n toonbeeld van die veggees wat eie aan HFM is. Die senior dogterspan het vanjaar vir die derde keer die beker huis toe gebring as beste presteerders in dié kategorie.


HFM teken ‘n totaal van 638 punte aan en eindig in die tweede plek met ‘n skamele 25 punte agter Hoërskool Ellisras en stap weg met die beste opkoms, dirigente beker en die sangbeker.

Die pawiljoene was volgepak met HFM ondersteuners.

 

Share this article with a friend...