Articles
Headline News
08 February 2019

Nou toe nou... so vars soos gister. Beloftes maak altyd ‘n verkiesing, en die verkose maak gewoonlik nie hond of haaraf nie.


Aan beloftes kon ek seker al ‘n magtige man wees, toe loop die woorde my plan en al in die wiele gery. Oorle pa het nooit teleurgestel nie en elke belofte vir ‘n pakslae was stiptelik uitgevoer. 


Later sou ek leer twee woorde kan beloftes ernstig kniehalter. Die een is ‘maar’. ‘Maar’ het ‘n geneigdheid om als wat sopas gesê is, te kanselleer. ‘Maar’ kan enige man in ‘n seuntjie laat verander. 


Die ander woord is meer van ‘n verwoester want as hy sy buiging maak kan jy alles wat voor en wat na gesê is onder die mat loop invee. En dit is die woord ‘as’. Wanneer ‘as’ sy buiging maak, is dit neusie verby. As is mos maar verbrande hout en deug vir geen doel behalwe om stene te maak om mekaar mee te gooi nie.


Ek staan toe self kordaat as verkiesing kandidaat, MAAR maak nie die uitverkorenes se geledere nie. AS ek dit sou maak, was ons ou dorpie al byna ‘n paradys – tong in die kies met ‘n tikkie humor.
So het ons uitgesien na ‘n oplossing vir ons water probleem...

MAAR die infrastruktuur is totaal verouderd en daar is nooit onderhoud werk gedoen nie. AS daar geld was, sou ons die d...ing uit die water kon haal. Vir nou bly die water vuil of weg. Spoeg en plak om die sinkende skip te red laat die toekoms onveranderd. Die tegnologie vorder asof tyd vlieg, maar as dit kom by ons munisipale infrastruktuur leef ons op ‘n ashoop van die verlede.


Met die verkiesing op hande hoop ek dat elke kieser met integriteit en goeie oordeel sal gaan kyk na die waardes van elke party volgens hul grondwet. Elke party se waardes is vasgevang in wat neergepen en bevestig word in sy grondwet. Wanneer daardie waardes bots met jou Christelike oortuiging oor die lewe, moet jy baie mooi dink.


Groetnis, 
Oom Mamba

Share this article with a friend...