Articles
Social & Community News
21 December 2018

Thabazimbi – Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) Thabazimbi-tak het vanjaar behoorlik skouer aan die wiel gesit om ‘n positiewe verskil aan die gemeenskap te maak.


Hulle het ‘n hele paar projekte geloods soos die Tekkie Tax fondsinsameling. Die projek was ‘n reuse sukses danksy die skole en skenkings van Eagle Mountain Spur, TJ Lee ouditeure, BUCO, Northam Toyota en Kaya Kwa.


Die kinderbeskermingsprogram by Hoërskool Frikkie Meyer (HFM), TCS, Laerskool Thabazimbi, Dwaalboom en Koedoeskop was nog ‘n projek wat hulle aangepak het, en sowat 2,000 kinders is bereik.


Gedurende vrouemaand is ‘n ‘Park Run’ gehou ter ondersteuning van 16 dae teen geweld teen vrouens en kinders. Hulle borge was Hannes Coetzee van Spar Thabazimbi, Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit, Active Life Gym en 3@1 (DHL) wat vir hul die drukwerk gedoen het. Dit was ‘n heerlike belewenis wat herhaal moet word!


Die gemeenskap het ook baie bydraes gelewer danksy die kinders wat met Projek Winterhoop by HFM en Gesinsdag by Laerskool Thabazimbi groot hoeveelhede nie-bederfbare produkte en komberse geskenk het.  SAVF Thabazimbi-tak het ook groot hoeveelhede skenkings van klere en huisware op ‘n gereelde basis ontvang.


Op Mandeladag het die SAVF uitgereik na die pediatriese afdeling van die Staatshospitaal. Daar is by die senior burgers van Bosveldoord ‘n draai gemaak en almal het lekker saamgekuier. Die SAFV se vrywilligers is op ‘n gereelde basis betrokke by ons gemeenskap se bejaardes.


Baie dankie aan die gemeenskap, vrywilligers en kerke wat betrokke was om die projekte ‘n sukses te maak.


‘n Geseënde Christusfees word u en u familie toegewens

Die SAFV-Thabazimbi vrywilligers.

 

Share this article with a friend...