Articles
Headline News
28 September 2018

Thabazimbi – Op Woensdag 19 September het die jaarlikse vete tussen die matrieks en die res van die skool se sportspanne (resspanne) plaasgevind.

Tradisioneel is dit die wintersportspanne wat kompeteer, maar vanjaar het die sokkerspanne en skaakspanne ook ‘n appeltjie te skil gehad. 


Die skaak was ‘n redelik voorspelbare affêre met die matrieks wat beslis die beste spelers gehad het en wen hul los hande 14-17.


Die sokker het intussen afgeskop in ‘n stryd wat gelykop eindig met een punt elk, waarna die uitklop op doele plaasgevind vind. Die matrieks slaag daarin om een doel meer aan te teken en wen ‘n spannende wedstryd met vyf teenoor vier.


Die hokkiebokkies sê mekaar die stryd aan op ‘n snikhete dag en in die tweede helfte verhang die resspan die bordjies en teken uiteindelik vier doele teen nul aan, om die wedstryd oortuigend te wen. Op die netbalbane het die resspan van meet af die pas aangegee en heeltyd voorgeloop. Hul wen dan ook die wedstryd gemaklik, 31 - 15.


Wat die rugby aanbetref was die aanvanklike mening dat die matriekspan maklik sou domineer met sewe stuks provinsiale spelers in die groep. Die teendeel was egter waar met die resspan wat hul man gestaan het in die verdediging. Die matrieks slaag tog daarin om twee drieë aan te teken, teen die een van die resspan wat dan die verskil in die telling 20 – 13 teweegbring.


Die dag se vete is gekenmerk deur goeie, harde kompetisie waarin sportmanskap geseëvier het. 
HFM spreek graag hul dank uit teenoor elke ouer, ondersteuner en vriend van die skool wat ‘n bydrae gelewer het, hoe gering of hoe groot ook al.

Matriek rugbyspan wat as wenners uit die stryd getree het.
Die matriek sokkerspan met hulle uitstekende wen.
Die resspanne wat teen die matrieks gekompeteer het.
Die graad 10 rasieleiers wat die spelers aangemoedig het van die kantlyn af.

 

Share this article with a friend...