Articles
Sport & School News
21 September 2018

Thabazimbi – Aan die einde van die seisoen kyk ons terug op ‘n suksesvolle rugbyjaar. In die liga tree drie spanne as Limpopo wenners uit die stryd.


Die Eerstespan klop Piet Potgieter met 36 - 17, die Tweedes speel gelykop teen Piet Potgieter met 12 – 12 en deel die beker terwyl die Derdes 25 – 15 teen Hans Strijdom wen. Die o/14 A-span is ongelukkig naaswenners nadat hulle teen Merensky 10 – 16 verloor.

Dit is veral vir die Eerstespan ‘n puik prestasie omdat hulle vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar afdelingskampioene is. 


Die o/14 A-span sit hul mars in die kompetisie voort deur  Secunda in die uitspeelrondte te klop met 31 - 10. Hul wen ook die wedstryd teen Wonderboom met 17 – 14 waarna hulle in die semifinaal teen Dinamika te staan kom. In ‘n harde wedstryd waarin hul tot die einde veg, verloor hul ongelukkig 29 – 19. 


In die uitspele vir die Virseker Beker reken die Eerstespan af met ‘n 75 – 19 oorwinning oor Midstream College, hulle klop Randburg met 28 – 22 en wen Die Anker in die semifinaal met  28 – 13. In die finaal van die Virseker Beker afdeling twee speel hul teen Secunda, maar verloor ongelukkig die wedstryd 14 – 20. Die span het vanjaar besonder goed presteer deur slegs vier wedstryde uit 24 te verloor. Die basis is ook gelê vir ‘n goeie span in 2019. 


HFM geniet ook goeie provinsiale verteenwoordiging met nege spelers in die Cravenweekspan en 21 spelers wat in totaal provinsiale kleure verwerf. Baphiwe Fani, Anthony Brand, Anthony Buys, Dewan Deysel, JT Cronje, Thimishwa Nemavhola, Victor Potgieter, Erik Snyman en William Thulare is gekies vir die Cravenweekspan. 


In die Akademiespan word Diaan Coetzee, JB du Toit en Renier Els opgeneem. In die VKB o/18 – o/19 span speel Pieter Viljoen, Nelson Mamabolo en Nathan Fourie. Vir die o/16’s provinsiale spanne  is Anrich Basson, Gift Fihlani en Matlapu Modise in die Grant Khomo gekies. Zander Beeslaar, PJ Bezuidenhout en JD Jordaan verteenwoording HFM in die  Die Noordvaal o/16 span.

Die o/14 A-span na hul wen teen Wonderboom.

 

Share this article with a friend...