Articles
Headline News
03 August 2018

Thabazimbi – In Limpopo is die Apiesdoring karnaval nou bekend as een van die heel grootste jaarlikse feeste. 


Met meer as ‘n geskatte 10,000 besoekers in 2017 groei díe karnaval jaarliks!  
Daar is al dikwels onder lidmate gesels oor wat die groot trekpleisters is wat honderde gesinne uit buurdorpe en uit Gauteng baie kilometers laat aflê om die karnaval by te woon. Die feit dat die toegang gratis is, word dikwels as rede gegee.

Die top gaskunstenaars wat optree is nog ‘n rede. Vanjaar is dit Theuns Jordaan en Pieter Koen se beurt.
Ander meen weer dis die boere tradisies en lekkernye soos pap en kaiings, pap en wildslewer en stampmielies en afval... die atmosfeer van boeregasvryheid en hartlikheid.  


Nog ‘n opinie is dat die kerk se uitreik na die gemeenskap en behoeftige gemeentes, mense inspireer. So word jaarliks ‘n klomp pleegsorg huise se kinders genooi om gratis by Tarentaalpan kampterrein te bly en op die karnaval saam te kuier, te eet en te speel. ‘n Gemeente uit die weste van Pretoria het ook ‘n stalletjie om fondse vir hulle kerkkas in te samel.  


Isak Joubert, die karnavalvoorsitter, se mening is die sukses lê by die offervaardigheid van die lidmate. Ja, die ekonomie is styf, die stakings volop, die myne trek swaar en die boere trek swaar met wild en produkte se pryse wat laag is. Desondanks, offer lidmate steeds ruim.


Dis hierdie skenkings van beeste, skape, wild ensovoorts wat teen enkel-laagvat pryse verkoop word, wat mense van wyd en syd lok! Dis die groot trekpleisters tydens die karnaval!


Top gevoerde beeste en skape se vleis en meer as 80 stuks wild se biltong word vanjaar verkoop. Geen wonder die eerste kopers staan al van voor 06:00 in die tou nie. By díe karnaval sal jy nog boerewors kan koop teen R65 p/kg, T-bene teen R79 p/kg, gemengde kookvleis teen R45 p/kg en Rooibokbiltong teen 145 p/kg! Ander wildsbiltong teen R170 p/kg en beesbiltong teen R180 p/kg. Die reuse slaghuis in die saal open stiptelik om 7:30vm. 


Thabazimbi se MBT brandstofstasie se gawe eienaars het ‘n groot skenking gemaak met die brandstofprys wat nou hemelhoog is. Hulle gee vyf R1,000.00 brandstof koeponne weg vir gelukkige vleiskopers!  Die wennners sal met ‘n gelukkige trekking net voor Theuns Jordaan se optrede om 15:00 bepaal word. 


Die gebakstal se dames is reeds weke besig om heerlike beskuit, kleinkoekies, vleispasteitjies en koeksisters te bak. Maak jou reg vir tafels wat gaan kreun!  


Díe jaarlikse feestelikheid onder die Apiesdoringbome, vind plaas DV Saterdag 4 Augustus van 07:30 tot laat middag by die Hervormde kerk net buite Thabazimbi – op die pad na Ellisras of Lephalale.  Vir meer inligting kontak Izak Joubert by 083-488 6357 of Hennie van der Linde by 083-507 0335 of gaan loer by www.apiesdoringkarnaval.co.za

 

Share this article with a friend...