Articles
Social & Community News
13 July 2018

Thabazimbi – Ons sing daarvan. Ons skryf verhale daaroor. Ons maak flieks daaroor. Ons dig daarvan. Ons raak opgewonde daaroor. Ons huil as gevolg daarvan. Dominees preek daaroor... Dís alles waar van die liefde.

Só word die liefde dan die tema van die 11de Thabazimbi Apiesdoring karnaval. Gepas nogal, want die liefde – God se liefde –  bring mos ‘n gemeente byeen... En alles wat ons doen moet in liefde geskied. 1 Korintiërs 13 stel dit so mooi dat al sloof jy jouself af, maar “jy het geen liefde nie, baat dit jou niks.”

Daar is besluit kompetisiekaartjies word verkoop teen R100 ‘n kaartjie met vyf top vakansies wat  gewen kan word. Uit liefde word vyf vakansies geskenk vir behoeftige gesinne wat nog nooit op vakansie was of ooit die see se water self gesien en gevoel het nie. Kaartjies is by die kerkkantoor of by Elbro Makelaars beskikbaar. Kontak Riana Bekker by 072-671 9710 vir meer informasie.

Die vleispryse van die Hervormers in Thabazimbi is ook uit liefde so gekies dat dit barmhartigheid aanhelp. Gemengde bees kookvleis teen R45.00 per kilogram of rooibokbiltong teen R1455 p/kg maak vleis-koop moontlik, selfs vir diegene wat swaartrek met die petro-flasie wat so weghardloop! Vyftig beeste is gevoer by Tuffy. Dis nou al ’n 11 jaar lange tradisie: hier koop jy top vleis teen die beste pryse!

Boonop gee Thabazimbi MBT vyf R1,000.00 brandstof koeponne weg vir ‘n gelukkige trekking vir elke vleiskoper!

Theuns Jordaan en Pieter Koen is vanjaar die kunstenaars wat Thabazimbi se bosvelders kom vermaak.

Die Apiesdoring karnaval is ‘n kinderparadys. Daar is ‘n kinderspeelpark, ‘n spookhuis, reuse tombola, boomklim, Petra se lekkergoedstal, kettieskiet, skyfskiet, boogskiet, laser kleiduif skiet, mnr  Michael se paaltjie raakgooi kompetisie, Kobus se talle speletjies en Andrew se wurmtrein wat heeldag loop... selfs motorfietsritte! Noem dit op en dis daar.

Vir meer informasie, besoek www.apiesdoringkarnaval.co.za.  

Die karnaval vind plaas DV Saterdag  4 Augustus van 07h30 af by die Hervormde Kerk net  buite die dorp. 

Toegang is gratis. Vir navrae kontak die voorsitter, Izak Joubert, by 083-488 6357 of Hennie van der Linde by 083-507 0335. 

Theuns Jordaan

 

Share this article with a friend...