Articles
Headline News
04 May 2018

Thabazimbi – Gee vir ‘n jagter ‘n dier en hy skiet harte... Maar gee vir die boogskut ‘n kol en hy skiet x’e! Kombineer die twee, dan kry jy die Thabazimbi Boogklub. 


Sover was 2018 ‘n besige tyd vir die Thabazimbi Boogklub. Hulle spog met aanbouings: ‘n skuifdeur is ingebou en die toeskouers se ruimte is vergroot. Die klub voldoen aan elke skut se behoeftes: hetsy jy diere- of kolle teikens verkies. 


Maart het afgeskop met die Mpumalanga nasionale Field kompetisie by Klippan naby die Arnot Kragstasie tussen Middelburg en Carolina. Hoërskool Frikkie Meyer het ‘n gedugte span, wat in wind en weer kan deelneem en altyd goed vaar, gestuur. 


Dinsdae aande is, soos gewoonlik, deurgebring saam met vriende en kollegas by die klub se 2D skietsessies. 
Die ABO (African Bowhunter Organisation) boogskiet kompetisie is op 7 April te Bela Bela gehou. Die manne het lekker ‘gejag’ en saam gekuier. 


Onthou manne en manninne, April is die kolle-maand waar binnenshuise kolle tel. Die Thabazimbi Boogklub het die Limpopo-Suid binnenshuise kompetisie oor die naweek van 15 April aangebied. Groot name in boogskietkringe het deelgeneem. Werdie van Staden van Ellisras het ‘n volle rondte van 300/300 met 60/60 x’e aangeteken. Hy is een van net ‘n handjie vol mense in Suid Afrika wat díe eer te beurt val. 


Die IFAA 1-kol of 5-kol teiken is internasionaal erken. Tydens die Nasionale binnenshuise kampioenskappe te Kempton Park het Ameij Broekhuizen ‘n silwer behaal in die Junior Female Freestyle Unlimited kategorie (296/300) met 60 x’e. Hier het Mathilda Broekhuizen ook ‘n goue medalje in die Adult Female Bowhunder Unlimited kategorie (300/300 met 42 x’e) behaal. 


Kom kies jou gunsteling diere of kolle… die teikens is daar! Stof jou boog af! Op 12 en 13 Mei word die Limpopo Field kampioenskappe by die Thabazimbi Boogklub se tuisbaan aangebied. Bespreek solank jou plek op SANAA se webtuiste en registreer aanlyn. 


Die baan word in die berg en omgewing rondom die klubhuis gebou. Elke deelnemer sal 28 teikens met pyle skiet, elk oor afstande van 10-80 treë vir volwassenes. Juniors o/17 tot 50 treë en cubs o/13 tot 30 treë. Toeskouers is welkom! Verversings sal beskikbaar wees en ‘n heerlike kuier-braai na afloop van Saterdag se verrigtinge sal aan die orde van die dag wees. 


Vir enige navrae, kontak Chris Welgemoed by 082-921 1218 of Gert Snyman by 083-295 1284. 

 

Hier trek Johan le Roux en Francois Oberholser pyle. Watter is harte met ‘n puntetelling van 10? Sien jy die pyl in die been van 5 punte? Hierdie is 2-D diere tydens die klub se Dinsdagaande bymekaarkom sessies.

 

‘n Voorbeeld van die 2-D diere.

 

 

Nuwe aanbouings by die klubhuis verhoog toeskouer waarde vir elke Dinsdagaand se skiet (17.45) en kompetisies.

 

Die ABO (African Bowhunter Organisation) boogskiet kompetisie is op 7 April te Bela Bela gehou. Op die foto van links: Jaco Jansen van Vuuren, Theaan Scheepers, Gerhard Snyman, Gert Snyman, Ryan Clark, Chris Welgemoed, Hannes Scheepers en Martin Scheepers.
Die nasionale Field kompetisie het by Klippan te Mpumalanga plaasgevind. Ons deelnemers, van links: Aart Broekhuizen, Juan de Jonker, Mathilda Broekhuizen, Jan-Gunther Marais, Bianca Kleynhans van Hoërskool Frikkie Meyer, Cobus Marais, Ameij Broekhuizen, De Wet Viljoen en Chris Viljoen.

 

Share this article with a friend...