Articles
Headline News
25 August 2017

Thabazimbi – Op Saterdag, 19 Augustus is Huis Immergroen se oumensies heerlik verras deur ‘n besoek vanaf die sprankelende Chanté Mulder.  

Van links: Annemarie Terblanche en Chanté Mulder by huis Immergroen tydens Chanté se liefdadigheidsbesoek.

Chanté is ‘n finalis van The Jacaranda Show Model and Arts vir haar kontemporêre dans. Alhoewel liefdadigheidswerk ‘n baie belangrike deel vorm daarvan om ‘n finalis te wees, voel Chanté dat dit nie ‘n liefdadigheidswerkie is wat sy gedoen het nie. 

Sy sê aan haar ma: “Mamma, as jy eendag oud word en in ‘n huis soos Huis Immergroen is, hoop ek daar is ook kindertjies wat vir jou  kan kom sing en Bybel lees.”  

Hierdie bejaardes is baie spesiaal vir Chanté, sy het besluit om vir elkeen ‘n mooi waslappie en ‘n heerlike sepie te vat.  “Moet net nie die cupcakes vergeet nie,” het Chante besluit, en sy gaan volstrek vir die mense dans ook. Tanie Tina du Preez het heerlik hande geklap terwyl Chanté gedans het. Tannie Tina is die oudste inwoner van Huis Immergroen en spog met ‘n volle 99 jaar.

Terwyl Chanté Izak se Glimlagkind voorgelees het uit haar kinderbybel het die bejaardes aandagtig geluister. Die liedjie Daar is vissies in die water kon almal nog onthou, want almal het heerlik saam met Chanté gesing. Sy het ‘n gebedjie gedoen en ons Skepper gevra om hierdie oumensies in sy hande toe te vou en te beskerm. Chanté se slagspreuk is “It takes a little heart to shape a big world” en sy het dit voorwaar bewys.

Share this article with a friend...