Articles
Headline News
06 April 2018

Northam – ‘n Groep vrywilligers van Northam en Thabazimbi munisipale lede het besluit “Genoeg is genoeg!”


Hulle het douvoordag op Saterdag, 31 Maart, by die Caltex Garage te Northam bymekaar gekom om self werk te maak van die vullis in die gemeenskap. 


In ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder verduidelik David Gouveia, gemeenskapslid, dat die bosveldmense se groot kommer lê by die gesondheidsrisiko’s wat die gemors inhou. “Ek is gatvol vir die onwettige asgate! Vir my gaan dit oor die gesondheid van ons kinders en die bevordering van ons gemeenskap. Ons wil Northam uitbrei. Hoe sal beleggers hier wil belê as die dorp in só ‘n toestand is?

Ons munisipaliteit het nie die fondse nie, daarom moet ons almal inspring en self werk maak hiervan. Ek maan ons besigheidsmense aan om asseblief nie hul gemors te stort op sypaadjies nie. Vir díe van julle wat so hard skouer aan die wiel gesit het – dankie!” 


Zanele Esply, raadslid van die Thabazimbi Munisipaliteit, het ook haar af-naweek opgeoffer en nog twee van haar eie munisipale kollegas saamgebring vir hulp. 


Gawie Hendrikz, ook van die munisipaliteit, het al op Goeie Vrydag met sy span aan die werk gespring en stortgebiede begin opruim.

“Northam het nog altyd aan die agterspeen gesuig, maar dit het tyd geword dat ons Northam se vere skud. Ons is dankbaar teenoor die gemeenskap vir hul ondersteuning en gereedskap, in besonder vir Boors Borman en Petrus Grobler vir hul reuse bydraes met sand en voertuie. Dankie ook aan my eie span van die munisipaliteit wat altyd gewillig is.” 


Dries Kotzé, besigheidsman in Northam sê: “Dit is n goeie begin! Solank as wat ons kan saamstaan, sal ons vordering maak.”

Van links: Sharleen en klein Danelle Gouveia, Herman en Alta Visser (gemeenskapslede), Dries Kotzé (besigheidsman in Northam) en David De Gouveia (gemeenskapslid).
Munisipale verteenwoordigers van links: Simon Morengwa, Zanele Esply, en Wonda Malele.
Gemeenskapslede besig met opruimingswerk. 

 

Share this article with a friend...