Articles
Headline News
30 March 2018

Roedtan – Ockie Breedt is op Donderdagmiddag 22 Maart net voor 18h00 beseer in ‘n plaasaanval net buite Roedtan op die Marble Hall pad.

Breedt is buite by sy voertuig oorval deur twee persone, gewapen met ‘n mes en pistool. Hulle het hom in die huis ingedwing en vasgemaak.  

Die twee aanvallers het die huis begin omkeer en aangedring op kontant en die kluissleutel. Daar het ‘n struweling ontstaan waarna Breedt agt keer met ‘n mes deur een van die aanvallers gesteek is. In die struweling is een van die aanvallers ook gewond, waarop hulle weggehardloop het.

Die hulp van boere in die omgewing, HPG en die SAPS is ontbied. Die personeel van die DLU noodvoertuig het Breedt gestabiliseer op die toneel en vervoer na ‘n hospitaal in Mokopane waar hy mediese hulp ontvang het. 

HPG het op die toneel spore positief geïdentifiseer waarna ‘n grootskaalse opvolgoperasie van stapel gestuur is. Boere van die Roedtan omgewing onder leiding van die veiligheidsverteenwoordigers van Potgietersrus DLU het paaie in die gebied toegemaak.

Die reën het die soektog baie bemoeilik en is afgelas omstreeks 21h00. Die ondersoek duur egter voort.

Johan de Beer, veiligheidsvoorsitter van Potgietersrus DLU  het die aanval ten sterkste veroordeel. Hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by Georganiseerde Landbou  en plaaslike  veiligheidstrukture. Hy het sy dank uitgespreek teenoor HPG, boere, die gemeenskap asook die SAPS wat so vinnig reageer het.

Persverklaring: Potgietersrus DLU, 23 Maart 
 

Share this article with a friend...