/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">

AfriForum, Thabazimbi-munisipaliteit smee bande
Thabazimbi – Die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit en AfriForum se Thabazimbi-tak het ’n historiese memorandum van verstandhouding onderteken, wat ’n nuwe era van samewerking vir die verbetering van dienslewering, infrastruktuur en gemeenskapsveiligheid inlui. Die ooreenkoms, wat amptelik op 1 Mei 2025 in werking getree het, formaliseer ’n vennootskap wat plaaslike uitdagings tot voordeel van alle inwoners die hoof gaan bied.
Die memorandum is op 4 Junie 2025 amptelik deur Gopolang Clement Letsoalo, munisipale bestuurder, en Jacobus Marthinus Kamfer, gemagtigde verteenwoordiger vir AfriForum, onderteken.
“Hierdie strategiese vennootskap spruit voort uit ’n gedeelde visie om die gemeenskap te bemagtig en eienaarskap te neem vir die beskerming, beveiliging en instandhouding van munisipale infrastruktuur en die omgewing. Beide partye erken die toenemende bedreigings wat munisipale dienslewering in die gesig staar en sien hierdie samewerking as ’n effektiewe meganisme om hierdie uitdagings die hoof te bied,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.
“Hierdie samewerkingsooreenkoms met AfriForum se Thabazimbi-tak is ’n belangrike mylpaal vir ons munisipaliteit,” sê Letsoalo. “Ons is besonders dankbaar vir AfriForum se bereidwilligheid om hande te vat met die munisipaliteit en hulle proaktiewe en gemeenskapsgesentreerde benadering.”
Die ooreenkoms sal aanvanklik vir drie jaar geld, met die opsie om dit vir ’n verdere drie jaar te verleng. ’n Gesamentlike komitee, bestaande uit ’n gelyke aantal verteenwoordigers van beide partye, sal gestig word om die implementering van die memorandum te bestuur, kwartaallikse werkplanne op te stel en die vordering van projekte te monitor.
Beide die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit en AfriForum sien uit na betekenisvolle samewerking wat tasbare voordele vir die gemeenskap sal lewer en ’n model sal skep vir positiewe burgerlike betrokkenheid. AfriForum se Thabazimbi-tak het elke inwoner se inkoop nodig om ’n daadwerklike verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.
AfriForum persverklaring ekstraksies, 17 Junie 2025
Foto: Van links: Barry Knuppe, Lena Monawa-Lesotho, Hendrik Kotzé, Elsie Ndhlovu, en Gopolang Letsoalo.
© 2026 - All Rights with Platinum Bushvelder