/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Articles
Social & Community News
05 May 2025

Jurg van Heerden is op 20 November 2024 aangewys as die nuwe President van AVS Verre Noord. Ons het by hom gaan inloer om meer oor hom uit te vind en hom so bietjie beter te leer ken. 

Wanneer Jurg van Heerden oor sport praat, is dit nie net ‘n passie nie – dit is ‘n lewensroeping. Van kleins af was sport ‘n integrale deel van sy lewe, van atletiek en swem tot rugby en krieket. Ná skool het hy selfs provinsiale rugby gespeel. Maar vir Jurg was sport nog altyd meer as net ‘n kompetisie, dit gaan oor spanwerk, dissipline en bowenal regverdigheid.

Sy eerste kennismaking met Afrikaner Volkseie Sport (AVS) Bokkieweek was 18 jaar gelede toe sy oudste seun vir die o/13 Bosveldspan gespeel het. “Daardie week het ‘n blywende indruk op my gemaak. Ek het eerstehands gesien hoe AVS Bokkieweek jong spelers die geleentheid bied om hul talente te slyp en te groei. Dit was ‘n omgewing waar kinders, ongeag hul agtergrond, ‘n kans gekry het om hul drome na te jaag,” sê Jurg. Vandag, as die President van Verre Noord, is dit presies hierdie geleenthede wat hy vir meer jong sportlui wil skep.

Sy jare by Bokkieweek het hom alreeds groot suksesse besorg. Onder sy leierskap het Verre Noord se o/19 Rugbyspan tydens die Bokkieweek twee keer as kampioene uit die stryd getree. As afrigter het hy ook die o/16 7’s Rugby en o/19 7’s Rugby by geleentheid tydens die Somerweek gewen. Hierdie prestasies is vir hom belangrik, maar selfs nog belangriker is die jong spelers wie se lewens deur sport verander is. Hy sien Bokkieweek nie net as ‘n platform om talentvolle spelers te ontwikkel nie, maar ook as ‘n plek waar waardes soos respek, dissipline en deursettingsvermoë gekweek word.

Jurg se visie vir Verre Noord is duidelik: Om meer spelers in Limpopo aktief aan Bokkieweek te laat deelneem. Elke kind moet ‘n regverdige kans hê om sy/haar volle potensiaal te bereik. “Ek glo met my hele hart aan regverdigheid. Dit is vir my belangrik dat niemand voorkeur kry net op grond van wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Talent en harde werk moet die bepalende faktore wees en daar is soveel talent in ons streek. Ons moet net die regte kanale skep om vir hierdie kinders ‘n geleentheid te bied.” Dit is juis hierdie insig wat hom dryf om kinders en ouers te motiveer om hulle by AVS Bokkieweek te betrek.

Sy droom is om te sien hoe Bokkieweek bly groei, nie net in terme van deelnemers nie, maar ook in die lewenslange impak wat dit op jong spelers het. Hy wil hê dat elke speler wat deur Bokkieweek gaan, moet onthou dat hulle ‘n gelyke kans gehad het om hul beste te wees. “As ek op ‘n dag kan terugkyk en weet ek het ‘n verskil gemaak in kinders se lewens, dan sal ek weet ek het my doel bereik.”

Met ‘n hart vir sport en ‘n verbintenis tot regverdigheid, is Jurg van Heerden die perfekte leier om Verre Noord na nuwe hoogtes te neem. Onder sy leiding is die toekoms van Verre Noord blink en vir die jong spelers wat daarvan deel word, is die moontlikhede eindeloos.

Foto: Jurg van Heerden

Share this article with a friend...