Articles
Social & Community News
16 February 2018

Thabazimbi – Jessie is ‘n 13-jarige Pointer wat op Saterdag, 10 Februarie, ‘n swart mamba die stryd aangesê het, en oorleef het.

Sy het hond se gedagtes gekry toe sy afkom op ‘n twee-meter lange Swart Mamba.

Roelf Krause, eienaar van Jessie, vertel in ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant hoe Jessie en die Swart Mamba mekaar teë gekom het. “Ons woon sowat 15 kilometer uit die dorp. Jessie geniet dit om elke middag om die plaas saam met my te loop. Dan baljaar sy al te lekker in die krip, maar díe Saterdag kon ons nie hond of haar afmaak nie! Dit was net stof wat gespat het soos sy en die Mamba mekaar beetgekry het!”

Die geveg was van korte duur maar Roelf sê hy kon ten minste sewe geleenthede tel waarby die swart Mamba vir Jessie gepik het.

“Ek sou nooit kon glo dat Jessie sou oorleef nie, nog minder die geveg wen nie!” sê Roelf. “Danksy dr Gareth Newby en suster Rene Jackson by Medivet, is Jessie oor die hond se stert.”

Jessie het ses vliese teengif opgeneem en was in ‘n kritiese toestand. “Die kanse was min dat Jessie dit sou maak,” sê dr Newby. “Maar ons het steeds gehoop! Ons het net onlangs ‘n hond probeer red nadat hy gepik is deur ‘n Mamba, maar tevergeefs! Jessie is baie sterk én daarby al 13 jaar oud!”

“Oom Mamba” oftewel Petrus van Breda, gesoute slangekenner vertel in ‘n onderhoud dat dit werklik ‘n wonderwerk is dat Jessie Swart Mamba gif kon oorleef!

Jessie is ‘n baie rare uitsondering. Indien jy vermoed dat daar ‘n slang naby jou woning is, hou jou honde terug, maak vir jouself ‘n lekker koppie koffie en kontak die slangekenners:

  • Petrus van Breda                     079 897 5611
  • Peet van Breda                         083 579 3139
  • Henk Havenga                          083 698 3401
  • Delport Botma                          082 941 4137
  • Charles Jansen van Vuuren    074 414 6138
Roelf by Jock en Jessie (regs). Jessie is ‘n 13-jarige Pointer wat op Saterdag, 10 Februarie, ‘n swart mamba die stryd aangesê het.
Jessie (regs) en Jock geniet die plaaslewe.
Krause wys met trots die enorme Swart Mamba wat Jessie van kant gemaak het.
Roelf Krause het sonder versuim Jessie op die bakkie gelaai en deurgejaag Medivet toe. Daar het dr Gareth Newby en suster Rene Jackson onmiddellike behandeling aan Jessie verleen en teengif administreer.
Dís moes hoe legendes soos ‘Jock van die bosveld’ begin... “Jessie van Thabazimbi oorwin die Swart Mamba”...

 

Share this article with a friend...