Articles
Headline News
09 February 0018

Thabazimbi – Thabazimbi se Bloedbank het hul maandelikse bloedskenkaksie gehou op Woensdag, 7 Februarie. 

Matiam Barnard, bestuurder van Tyremart Thabazimbi, het skouer aan die wiel ingeval by die Bloedbankaksie en die ‘Blood and Battery’ kompetisie geloods. Alle persone wat bloed aan SANBS Thabazimbi op díe dag geskenk het, staan ‘n kans om ‘n splinternuwe battery te wen. Die trekking vind binnekort plaas; hou die spasie dop! 


In ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant vertel Barnard: “Ek het drie kinders, dit is vir my as ‘n vader baie belangrik om meer mense na die Bloedbank toe te lok. As een van my kinders eendag bloed nodig het, wil ek graag hê dat dit tot hul beskikking moet wees. As jy een keer bloed skenk, kan jy tot drie mense se lewens red.” 


Marie Steenekamp, koördineerder van Thabazimbi se Bloedbank aksies, is behoorlik in haar noppies met die hoeveelheid bloedskenkers wat opgedaag het. “Ek sê hartlik dankie aan ieder en elkeen wat die Bloedbank so getrou ondersteun. Dit is as gevolg van julle dat ons een van die beste takke in die Limpopo provinsie is!”

“Kom ons maak hierdie jaar weer so! As julle kom, bring asseblief iemand saam, sodat ons hierdie jaar weer so sterk kan staan soos 2017!” sê Steenekamp.

 

Van links: Nadia Prinsloo, 5de keer skenker; Anchen van Wyk, ingeskrewe verpleegster; en Matiam Barnard, bestuurder van Tyremart Thabazimbi.
‘n Dankie aan Marie Steenekamp, koördineerder van die geleentheid. 

 

Share this article with a friend...