Articles
Social & Community News
14 December 2017

Thabazimbi – Kersfees is vir elke kind ‘n droom... ‘n Spesiale dag met ‘n lekker bord kos, gesigte wat glimlag en ‘n geskenkie wat bewonder word. ‘n Dag om elke kind se hart warm te maak en hul ogies te laat skitter.

Hierdie spesiale oomblikke is ongelukkig nie vir elke kind beskore nie. Daarom het Chante Mulder van Thabazimbi besluit om vir die kinders van die Bethlehem voedingskema, díe Kersfees spesiaal maak.

Op Vrydag, 1 Desember, het die kleingoed Kersfees gevier. Heerlike kossies en nagereg was bedien – en ieder en elkeen het ‘n Kersgeskenk ontvang.

“Dit was so lekker om hierdie te doen. Ons almal moet ons harte oopmaak en vir die minderbevoorregte mense iets doen oor Kerstyd,” vertel grootoog, agtjarige Chante aan die Platinum Bushvelder koerant.

Chante se kreet was gehoor. Talle instansies en besighede in Thabazimbi en Northam het gehelp en opgedok vir die projek. ‘n Groot dankie gaan aan M&J Foodtown Northam – die hoofborg van die projek. Baie dankie ook vir Thaba Sweets en Sink Shack vir die lekkernye en geskenkies, vir die ouers van Laerskool Thabazimbi vir al die speelgoed en klere, en vir Limpopo Stationers vir die geskenkpapier.

Lekker kospakkies!
Van links: Marco Caldeira, Reinette Nell en Leonette Caldeira.

 

Share this article with a friend...