Articles
Social & Community News
23 July 2021

Helena Cathriena (Rina) Rabie is op Dinsdag 5 Julie 1960 te Thabazimbi gebore. ‘n Klein fyn dogtertjie met ‘n vurige geaardheid. Sy was die enigste suster van drie broers.

In Thabazimbi het sy grootgeword – geleef, gelief, gehuil, gejuig. Sy het ook hier skoolgegaan te Laerskool Thabazimbi en Hoërskool Frikkie Meyer. Iewers tydens 1976 het sy haar hart verloor op Johan Rabie en is sy met die einste man van haar getroud.

Uit die huwelik is vyf kinders gebore maar ongelukkig het haar eerstelinge, ‘n tweeling dogtertjies, slegs ure geleef. Later is Marc, Angelique en Albert gebore. Sy was ‘n toegewyde en liefdevolle vrou, huisvrou en ma... en bo alles, alombekend in haar gemeenskap vir kookkuns, bakwerk en naaldwerk. Sy was ook ‘n vernuftige skilder en pottebakster. Lid van die Hervormde Kerk Sustersvereniging vir baie jare, en toegewyde diensmeisie vir Christus Jesus haar Koning en haar Meester.

Sy was inderdaad ‘n Spreuke 31:10-31 vrou. “Daar is baie knap vrouens Riempies, maar jy oortref hulle almal!” Van 1990 tot 1992 het die Rabies in Atokia gewoon waar Rina die besondere voorreg sou ontvang om vir Nelson Mandela te kook. Rina het ook in haar lewe die besondere voorreg gehad om ouma te wees vir ses pragtige kleinkinders, Jano, Alré, Annelize, Marinae, Stiaan en Cara. Sy was besonders lief vir hierdie kleintjies. ‘n Uitnemend liefdevolle ouma.

Daar was ook ‘n besondere troeteldier in haar lewe, Snoekie, ‘n Schnauzer-hondjie. Snoekie is gebore op Rina se 56ste verjaarsdag. Hierdie hond was uiters besonder vir Rina en hulle bande heg. Rina is op 13 Julie oorlede en haar geliefde hond is slegs drie dae later oorlede.

Rina sal gemis word, tot weersiens, deur haar man, al haar kinders, kleinkinders, familie, vriende en kollegas. Haar liggaam sal aan die aarde terug besorg word op 26 Julie om 11:00 te Thabazimbi en tot met die Opstanding van die Regverdiges in Christus Jesus.

 

Sarie Botha is op Sondag 11 Julie op die ouderdom van 81 oorlede. Sy sal onthou word as ‘n statige liewe mens wat nooit êrens heen sou gaan met ‘n haartjie uit plek nie. Sarie het gelewe vir haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders wat sy altyd net wou bederf.

Sy sal baie gemis word deur almal wat die voorreg gehad het om haar te ken. Haar drie dogters, drie kleinkinders en twee agterkleinkinders word agtergelaat. Haar gedenkdiens het op 21 Julie vanuit die NG Kerk Thabazimbi plaasgevind.

 

Dries Kotze het op Woensdag 14 Julie sy lewensboek afgesluit. Hy was ‘n toegewyde familie man en sal deur sy familie onthou word as ‘n hardwerkende man wat sy liefde vir sy Skepper uitgeleef het.. Dries het nooit geskroom om enige iemand by te staan nie en het aktief gepoog om ‘n verskil in sy gemeenskap te maak. So ook was deel van die Northam Rate Payers Association, en sy deelname gaan beslis gemis word.


Sy vrou Louise Kotze was vir 38 jaar die liefde van sy lewe en elke oomblik wat hy saam met sy familie kon deurbring het hy gekoester. Die gedenkdiens het op 20 Julie vanuit die Hervormde Kerk Northam plaas gevind en is deur dominee Kiewiet  Van Deventer waargeneem.

Basjan Dumond is in 1978 gebore in Stilfontein en was ‘n inwoner van Thabazimbi vir meer as 20 jaar voor sy afsterwe op Vrydag 16 Julie. Hy was die derde-oudste uit ses kinders. Almal het vir Basjan geken as ‘n persoon wat altyd geglimlag het en altyd daar was indien iemand hom sou benodig.

Basjan het sy loopbaan as verkoopskonsultant by Auto Exec begin en was vir die laaste vyf jaar by Northam Toyota werksaam. Hy was baie gelukkig in sy werk met ‘n uitmuntende verkoopsvernuf. Hy was baie lief vir sy lewensmaat en verloofde, Estie, saam wie hy die laaste agt jaar van sy lewe spandeer het.

Die paartjie se tweeling seuntjies, van 17 maande oud, het hul pappa verloor. Basjan was ook die trotse pa van ‘n ouer dogter en seun. Aldus Estie de Beer: “Basjan was my beste maatjie en my lewensmaat – en ek mis hom verskriklik baie.

Ons het soveel dinge saam beplan en het ons lewe saam begin bou. Basjan het so baie van Afrikaanse musiek gehou en was ‘n goeie pa en man. Ek koester die tye wat ons saam gehad het en is dankbaar dat hy my 30ste verjaarsdag in Meimaand saam met my kon vier – by die see.”

Op die ouderdom van 42 los Basjan ‘n leemte in sy ouers, broers, suster, familie en vriende se lewens en laat sy lewensmaat Estie en sy vier kinders agter. Van Northam Toyota en bestuur: “Rest in Peace, dear Basjan. It is with immense sadness we part with such an enthusiastic, kind and beautiful soul. He will be greatly missed, yet fondly remembered,” Northam Toyota Management and staff.  

Share this article with a friend...