/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Articles
Sport & School News
13 December 2017

“As jy nie kan lees nie, kan jy nie leer nie.” Die uiters kommerwekkende bevindinge oor Suid-Afrikaanse kinders se gebrekkige leesvaardighede in die nuutste internasionale PIRLS-verslag trek nie net ‘n rooi streep deur die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel se pogings nie, maar is ook ’n aanklag teen ouers, voogde en ander rolspelers.

Die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) is ’n groot internasionale vergelykende meetinstrument wat elke vyf jaar gedoen word om die leesvaardighede van Graad 4-leerders te meet. Suid-Afrika beklee die heel laaste plek uit die 50 lande wat deelgeneem het.

“Jy kan nét leer lees deur te lees. As agt uit tien Graad 4-leerders nie verstaan wat hulle lees nie, dui dit op ernstige tekortkominge in die plaaslike onderwysstelsel. Ná vier jaar op skool kan kinders létterlik nie lees nie,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

Deacon sê FEDSAS se standpunt is dat ingrepe reeds in die grondslagfase moet plaasvind. “Ons het die beste opvoeders in kleiner klasse nodig om in moedertaal die basiese vaardighede soos lees, skryf en syfervaardighede te leer.” Deacon sê een van die probleme is dat Graad R dikwels nie deur opgeleide onderwysers aangebied word nie. “Ons mors dus eintlik ‘n jaar se opvoeding waar die grondslag vir die basiese vaardighede reeds gelê kan word.”

Dat die regering nie bewus is van hierdie tekortkominge nie, of bloot nie omgee nie, is baie duidelik uit die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys. “As die doel van hierdie wysigings werklik was om die gehalte van onderrig te verbeter, sou ons praktiese, haalbare kurrikulumvoorstelle gesien het. Pleks daarvan is dit ‘n politieke magspel.”

Deacon sê ouers kan egter nie bloot die onderwysstelsel blameer vir Suid-Afrikaanse kinders se swak leesvaardighede nie. “Hoeveel ouers of volwassenes lees vir kinders? Of is self lesers? Indien die voorbeeld nie tuis gestel word nie, sal nie ouers of kinders eens besef dat daar ’n probleem by skole is nie. Ons stuur op ’n ramp af wat langtermyn gevolge vir ons land se produktiwiteit en ekonomie inhou – waar gaan geskoolde werkers vandaan kom indien niemand kan lees nie?”

FEDSAS is betrokke by talle projekte om ‘n leeskultuur by openbare skole te vestig. ‘n Projek in die Wes-Kaap wat mobiele biblioteke aan skole skenk, het reeds groot sukses behaal. “Vir FEDSAS is dit ’n prioriteit dat lede belê in en begroot vir skoolbiblioteke.” FEDSAS moedig ouers aan om hierdie vakansie hul kinders na biblioteke te neem en hulle toe te laat om self boeke te kies.

FEDSAS mediaverklaring, 8 Desember 2017

Share this article with a friend...


Deprecated: Directive 'allow_url_include' is deprecated in Unknown on line 0