/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Articles
Headline News
29 March 2021

Thabazimbi – Dit was donker buite op Sondag 14 Maart toe die brawe Graad 3 leerder Owen Gerber iets gehoor en uitgegaan het na hul hek om te loop kyk. Hy het op die muurtjie gedruk om oor te loer toe hy ‘n skielike brand op sy linkerhand gevoel. Dit is immers die bosveld en met al die goggas en kreature wat deel uitmaak van dié wêreld kan mens nooit te versigtig wees nie.
Owen het dadelik in die huis ingehardloop en vir sy pa gesê dat iets hom gebyt het. Die soektog na die gevreesde knibbelaar het begin en beurtkrag het dit ook nie maklik gemaak nie. Was dit ‘n slang? Was dit ‘n spinnekop? Was dit ‘n onbekende gedierte? 
Shaun Gerber, Owen se pa moes vinnig soek om seker te maak wat die plan van aksie vorentoe moet wees. In die stikdonker hoor hulle die geritsel... en siedaar, die skuldige gedaante is gevind – ‘n honderdpoot! Honderdpote is oor die algemeen meer bekend as oorkruipers.
Gelukkig is die spesies wat ons in Suid-Afrika kry nie lewensgevaarlik vir mense nie, maar dit maak die byt nie minder pynlik nie. Dis eina! 
Shaun het op sy voete gedink en sy seun se ‘wond’ behandel. Hulle het suiker en opgekapte uie op die bytplek gesit. Vir veiligheid is daar ook ‘n antiseptiese middel aangesmeer. Teen die volgende dag het Owen gelukkig 100% herstel.
Alhoewel dié ervaring vir sekere mense baie traumaties sou wees het Owen ‘n dapper gesig opgesit. “As ‘n honderdpoot jou byt - bly net kalm en gaan roep een van jou ouers of ‘n onderwyser,” het Owen in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder oor die ‘aanval’ gesê. Dit was egter ook ‘n baie goeie leer ervaring, nie net vir die Gerber gesin nie maar ook vir die Platinum Bushvelder-span... aangesien oorkruipers nie regtig oorkruipers is nie, en dat oorkruipers eintlik iets heeltemal anders is... Kom ons kyk!

Ken die verskil!

Meeste mense verwys na die honderdpoot as ‘n oorkruiper – hoe daai reuse gogga in jou oor moet klim sal niemand kan verduidelik nie, maar daar is egter ‘n kleiner ses-been gogga wat eintlik oorkruipers genoem word. Moet ook nou natuurlik nie fout maak om die honderdpoot met die duisendpoot te verwar nie wat dit is ook twee heeltemal verskillende gediertes.

Owen Gerber is deur ‘n ‘oorkruiper’ gebyt en was gretig om sy storie te vertel.
Owen Gerber dui met ‘n blaar aan hoe groot die ‘oorkruiper’ was wat hom gebyt het.
Daar is nog net ‘n ligte merk op Owen Gerber se hand waar die ‘oorkruiper’ hom gebyt het.
‘n Oorkruiper
Van kleins af het ons gehoor dat die gogga in jou oor klim en eiertjies in jou brein lê! Goeie genugtig dit is grillerig... maar dis nie waar nie! Vir ‘n insek met ‘n lyf nie groter as 3cm nie, kom hulle wel baie aggressief voor maar kan nie eers behoorlik byt nie. Hulle lewe van verrottende plantmateriaal en insekeiers en vang so af en toe ‘n klein mier om aan te peusel. Hulle het net ses pote.
‘n Honderdpoot
Alhoewel daar baie grillerige stories rondloop oor die gedierte, is meeste van die mites nie waar nie. Die spesie wat in Suid-Afrika voorkom is nie giftig vir mense nie, maar die bytplekke kan baie brand en ontsteek. Die grootstes word ongeveer 260mm lank en die kleinste spesies sowat 20mm. Honderdpote het tussen sewe en 173 paar pote – altyd ‘n ongelyke getal. Hulle is roofdiere en eet graag ander insekte.
‘n Duisendpoot
‘n Duisendpoot is een van die oudste land-diersoorte op aarde. Hulle het nie regtig 1,000 pote nie maar op die meeste 680 – afhangende van die soort. Hulle vreet alles... hoofsaaklik ontbindende plantmateriaal, partykeer ook vars plante, sagte vrugte, wortels waar die plante dikwels water kry en ander insekte soos ruspes as hulle die dag lus kry.

Share this article with a friend...


Deprecated: Directive 'allow_url_include' is deprecated in Unknown on line 0