Articles
Sport & School News
24 July 2020

Chiefs vs Highlanders

Warren Gatland se Chiefs-span het skitter ruggas opgedis maar verloor hulle vyfde agtereenvolgende game in die Aotearoa Reeks. Die Highlanders se durf, veggees en meesterlike spel wis ‘n agterstand van 0-24 uit om uiteindelik as welverdiende wenners van die veld af te stap.

In die 82ste minuut druk die Highlanders se senter, Sio Tomkinson, ‘n puik drie wat die spanne gelyk laat trek het. Mitchell Hunt klits die bal deur die pale om die drie te verdoel en sy span wen 33-31. Top gehalte ruggas is deur hierdie twee spanne opgedis en die nuwe afrigtingspan van die All Blacks het toeskouers heel in hul skik gehad. Die Chiefs speel volgende teen die Blues met die Highlanders wat ‘n loslootjie geniet.

Hurricanes vs Blues

Barrett vs Barrett. Die twee broers het albei op heelagter uitgedraf vir hulle onderskeie spanne en meet kragte vir die eerste keer die seisoen. Jordie was dalk op die dag ‘n kortkop beter af as Beauden en teken ook die wenpunte vir die Canes aan met ‘n strafdoel in die doodsnikke van die game om sy span met 29-27 as oorwinnaars van die veld af te laat stap.

Puik ruggas word deur albei spanne opgedis en die wedstryd was tot op die einde ‘n riller. Die Canes speel volgende teen die onoorwonne Crusader-span met die Blues wat in Auckland teen die Chiefs sal uitdraf.

Waratahs vs Brumbies

Die Tahs speel goeie ruggas maar kon net nie daarin slaag om die Brumbies die loef af te steek nie. Die Brumbies wen naelskraap in die ANZ Stadion met 'n telling van 24-23 en lyk ook op hierdie stadium na die beter span in die Aussie-kompetisie. Dié se volgende game is teen die Western Force met die Waratahs wat tuis teen die Rebels sal uitdraf.

Reds vs Western Force

In Queensland het die Reds net te veel skietgoed gehad vir die Force en wen 31-24. Die Force soek nog na hulle eerste wen van die seisoen en kan dalk in hulle volgende game teen die Brumbies verras. Die Reds het in die volgende ronde ‘n loslootjie.
Nag ou grote...

Share this article with a friend...