Articles
Social & Community News
02 August 2019

Thabazimbi – Die pluiveeafdeling by vanjaar se Thabazimbi Landbouskou van 25 tot 27 Julie het vir vele verrassings gesorg.


In totaal was daar 56 verskillende hoenderrasse in ‘n verskeidenheid kleure, eende en kalkoene te sien. Die hoeveelheid hoenders het ook van 180 verlede jaar toegeneem na 220 vanjaar.


Franco Snyman van Rustenburg se hardeveer Bantam is bekroon as die beste hoender. Piet Strydom van Thabazimbi se buff Orpington haan, het met die beste sagte veer prys weggestap. Piet het ook die beste ras en reserwe ras kampioenskap ingepalm. Piet het vyf eerste plekke, sewe tweede plekke en vier derde plekke behaal. 


Herman Botha van Rustenburg het die beste True Bantam prys verower. Ander wenners sluit in, John Turnball vir sy Cochin ras, Dawie Snyman met sy sagte veer Bantam en Jannie de Bruyn vir die beste hardeveer hoender en sy kalkoen inskrywing. Dieter du Plessis, ook van Thabazimbi, het sewe eerste plekke behaal vir sy Phoenix hoenders.


Die pluimvee skou is South African Show Poultry Organisation (SASPO) geregistreer, dus is alle beoordelaars geregistreer. Dit was vanjaar die vierde uitstalling, wat deur SASPO geregistreer en onderskryf was.


AutoZone borg die pryse sedert die skou geregistreer is. Bestuurder van AutoZone, Paul Scrutton sê dat sy borgskappe ‘n manier is om terug te ploeg, vir die ondersteuning wat hy van die publiek en boere kry.


Pluimvee boere het van sover as Lichtenburg die skou kom ondersteun. Die De Bruyn familie het 26 verskillende hoender-rasse, met net so wye hoeveelheid kleur variasies en reken die Thabazimbi skou is een van die beste skoue wat hulle al bygewoon het. 


Die beoordeling en prysuitdeling het op Vrydag 26 Julie plaasgevind. 


Volgende jaar hoop die pluimveeklub om baie meer hoenders, eende, ganse en kalkoene skou toe te bring. Skud solank julle vere reg vir volgende jaar se skou

Piet Strydom van Thabazimbi se buff Orpington haan.
Van links: Piet Strydom met sy buff haan en Franco Snyman met sy beste hardeveer.

 

Share this article with a friend...