Articles
Social & Community News
05 July 2019

Thabazimbi – Die Thabazimbi bosveld is ryk aan wild... En die jag-kultuur is eie aan die omgewing. Dit is met dié waarheid in die agterkop dat die gemeente Vliegepoort Thabazimbi besluit het op die 2019 Apiesdoring Karnaval tema: ‘Wild is bosveldgoud’.


Gevolglik is daar ook ‘n unieke kompetisie met eerste prys as ‘n plaaslike jag – buffel en swartwitpens, en die tweede prys as ‘n buffelkoei-jag in Phalaborwa omgewing. Kaartjies beloop $100 of R1500.


Die organiseerders is dankbaar vir die ondersteuning van verskeie ‘outfitters’ en jagplaaseienaars in die omgewing wat help om die kompetisie ‘n sukses te maak. Kontantpryse is op die spel vir die vier persone wat die meeste boekies verkoop. Tien persent van die inkomste gaan na Tambotie Versorgingsentrum vir verswakte bejaardes.


Intussen word daar op Woensdae wildsvleis verwerk met verskeie van ons boere en jagters wat donasies gee in die vorm van wildskarkasse. Biltongpryse is, soos altyd, waarskynlik die laagste in die vaderlandjie van ons… Waar anders koop jy nog rooibok biltong vir R150 p/kg, behalwe by die Apiesdoring Karnaval? 


Vir die vars vleisverkoping staan 40 kalwers by Tuffy op kraal – top kondisie vir top kwaliteit vleis. Boerewors teen R65-00 p/kg, gemengde kookvleis R45-00 p/kg, kookvleis R49-00 p/kg, maalvleis R65-00 p/kg en beeshaas teen R79-00 p/kg is net ‘n smakie van ons billike pryse.


‘n Nuwigheid vanjaar is die volwasse jeug wat ‘n ‘boktails’ stalletjie sal bedryf. Dis ‘cocktails’ sonder skop, maar met genoeg smaak en vermaak, om jou te laat tou staan! 


Die Apiesdoring Karnaval is ‘n kinderparadys – alles aangebied deur lidmate en vriende van die gemeente. Daar is ‘n kinderspeelpark, spookhuis, reuse tombola, boomklim, Sheena-Leigh se lekkergoedstal, kettieskiet, skyfskiet, boogskiet, laser kleiduifskiet, Kobus se talle bordspeletjies en Andrew se wurmtrein wat heeldag sal loop.

Daar is selfs motorfietsritte... Noem dit maar en dis daar!


Alle inligting van hierdie Thabazimbi gebeurtenis is te sien by www.apiesdoringkarnaval.co.za. Die karnaval vind plaas DV Saterdag 3 Augustus vanaf 7:30vm tot laat af by die Hervormde Kerk net buite die dorp. Toegang is gratis. 


Vir navrae kontak die voorsitter, Izak Joubert, by 083 488 6357 of Hennie van der Linde by 083 507 0335.  

‘n Kompetisie vir ‘n buffel- en swartwitpens jag is deel van die 2019 Apiesdoring Karnaval.
 ‘n Kompetisie vir ‘n buffel- en swartwitpens jag is deel van die 2019 Apiesdoring Karnaval.

 

Share this article with a friend...