/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Articles
Social & Community News
05 July 2019

Thabazimbi – Die Thabazimbi Landbouskou is om die draai en die hoender skou-afdeling groei jaarliks. Hoenders, net soos beeste en skape, moet lank voor die tyd berei word vir ‘n skou. Jy kan nie net voor ‘n skou in jou hoenderhokke ingaan en ‘n paar hoenders gaan vang nie.


Piet Strydom, ‘n hoenderboer van Thabazimbi, deel graag sy raad oor hoe om ‘n hoender skou-gereed te kry.

“Hane en henne moet lank voor die tyd geskei word, want anders breek die hane die henne se vere.

Jy besluit so agt weke voor die tyd watter hoenders jy gaan skou, en dan moet hulle apart in kleiner hokke geplaas word – want geen beoordelaar hou van ‘n wilde hoender nie.

Dit maak hulle ook gewoond aan kleiner hokke, soos op skou.”


Piet bad die hoenders so veertien dae voor ‘n skou. Hywas hulle versigtig met ‘n sagte spons en baba sjampoe. “Hier  benodig jy drie baddens vol louwarm water, die eerste een vir was, die tweede en derde is vir afspoel. In die laaste afspoelwater voeg mens gewoonlik bietjie asyn. Jy voeg ook dip by die laaste bad, om hulle skoon van vlooie en luise te hou.”


In die somer moet jy mens hoenders maandeliks dip en hokke gereeld skoonmaak, ontsmet en behandel. Hou jou hoenders in isolasie sodat geen wilde voëls by die water en kos kan kom nie, hulle is die verspreiders van voëlgriep en ander siektes. Hoenders mag ook nie geskou word, as hulle nie ingeënt is vir Newcastle siekte, pokke en brongitis nie. 


Elke hoender moet afsonderlik gebad en saggies met ‘n handdoek drooggemaak word. Plaas hulle in ‘n hok sodat hulle behoorlik droog kan word. Wanneer die hoender droog is, begin jy die pote, bene en naels skoonmaak. Ouer hoenders se skubbe op die been en pote word saggies afgeskuur, met skuurpapier, totdat dit mooi glad is. Tussen die tone word die vuilis verwyder met ‘n spons en bietjie Wim. 


‘n Week voor die skou, word die hele bad proses herhaal. Hierdie keer smeer jy Vaseline of gliserien aan die bene en pote. Die belle en kam moet ook gesmeer word, dit gee ‘n gesonder rooi kleur. Elke teler het maar sy eie mengsel om alles mooi skoon te laat vertoon.


Maak seker dat die hoenders geen donsies aan die bene of tussen die pote het nie. Dit verwyder jy ook met die skuurpapier, moet dit tog nie uitpluk nie, want dan sit daar ‘n gaatjie. By groot skoue sal die beoordelaars met ‘n vergrootglas die bene en pote bekyk en enige afwyking beteken diskwalifisering.


Die dag wat jy jou hoenders skou toe neem, maak seker alles is mooi skoon. Onthou die oggend van die beoordeling, kry jou hoender nie kos nie. Sodra die beoordeling verby is, kry die hoenders weer hulle rantsoene. 


Beoordelaars sal jou hoender uit die hok neem om te voel of hulle die regte gewig is. As jou hoender se krop vol kos is, spoeg dit dalk net die kos uit op die beoordelaar en jou hoender word dan summier gediskwalifiseer.


Hoenders wat geskou word, moet gering wees. Hulle word as kuikens gering. Elke ring het sy eie nommer en die jaar wat dit gering is. Jonger en ouer hoenders word apart beoordeel. Groot hoenderrasse is sagte veer en jou kleiner ras is hardeveer hoenders. Dit word ook apart beoordeel.
Alle hoenderboere word voorspoed toegewens vir die Thabazimbi Skou van 25 tot 27 Julie.


Gaan maak gerus ‘n draai by die skou indien jy belangstel om ook ‘n hoenderboer te word. Die ervare boere sal met graagte hul raad deel.

‘n Buff kleur Orpington.

 

Share this article with a friend...


Deprecated: Directive 'allow_url_include' is deprecated in Unknown on line 0