Articles
Headline News
28 June 2019

Thabazimbi – In 1963 is ‘n kwartaallikse Yskor vergadering gehou tussen Yskor Thabazimbi se mynbestuurder, die myn sekretaris, Istores se plaasbestuurder en direkteure... onder andere Kaalkop van der Merwe - min wetend dat dié dag groot besluite sou inhou. 


Omstreeks 13:00 daardie middag het die voorsitter van Yskor, JGF van der Merwe (Kaalkop) besluit dat hy na die vergadering ‘n paar putjies wou loop slaan – en het dit genoem aan die manne. Hy sou oudergewoonte Rooiberg toe moes ry – waar die enigste gholfbaan in die kontrei was. 


Net daar en dan het die manne ingestem dat Thabazimbi sy eie gholfbaan moet kry. Die manne het sommer die volgende dag al voorbereidsels getref en twee jaar later, in 1965, het Thabazimbi gespog met sy eie gholfbaan. 


Die heel eerste vier spelers om die baan te open, was Floors Stopforth, Dries de Ridder, Bertus Britz en Nick Theunissen. Die eerste jaarlikse klubkampioenskap is deur Floors Stopforth in 1965 gewen en hy het in totaal 17 jaar agtereenvolgend met hierdie titel weggestap! 


Einde Maart in 1996 oorstroom die Krokodilrivier sy oewers. ‘n Groot deel van die baan was onder water en net putjies sewe, agt en nege was speelbaar. Na die water weggesyfer het, was die res van die baan feitelik tot niet. Die komitee het besluit om die baan te herbou en die uitleg ook te verander – aangesien die myn ‘n ertspad deur die baan beplan het. 


Die nuwe uitleg was nog baie rou en ru toe ‘n tweede vloed in 2000 die baan weer tref! Hierdie vloed het al die voriges oortref en die water het tot voor die dames bof op nommer 10 opgestoot. Die baan moes wéér nuut oorgebou word.


Ter interessantheid... Deur al die jare heen, het slegs putjie een en nege ongedeerd bly staan. 
Teen 2004 was die baan weer op standaard. 


Thabazimbi Gholf Klub bestaan vandag uit 144 lede, Esme Behrens is die voorsitter, en Jannie en Louise van Graan is klub kapteine vir mans en dames onderskeidelik.


Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi, Northam en nabye areas oor die jare heen te deel met ons lesers, getitel: van toeka tot nou. 

Van links: Antonie Lotter en Barend Gerber.
Platinum Bushvelder het hard probeer om die gholfspeler se identiteit vas te stel, maar was onsuksesvol... Ons moes egter die foto met ons lesers deel van die Thabazimbi Gholf Klub geneem gedurende die 2000-vloed.

 

Share this article with a friend...