Articles
Sport & School News
31 May 2019

Chiefs vs Reds
Die Chiefs moes bloedsweet om die Reds in Hamilton te klop en wen uiteindelik 19-13. Die Chiefs se drome om in ‘n kwart-finaal te speel is ook iets van die verlede ou grote... 


Die Reds is ook maar in dieselfde bootjie en speel volgende teen die Jaguares in Brisbane en sal al die SA spanne regtig die guns van die jaar doen om die een te wen. Die Chiefs gaan ‘n moeilike dag op kantoor beleef en moet teen die Crusaders in Suva, Fidji gaan uitdraf.


Brumbies vs Bulle
Die Bulle verloor 22-10 teen die Brumbies in Canberra en die afwesigheid van Handrè Pollard kon duidelik gesien word. Nie net met sy leierskap nie, maar ook die rol wat hy op 10 speel is van onskatbare waarde! 


Die Bulle speel volgende teen die Blues in Auckland en hierdie is waarskynlik die Pretorianers se laaste kans om in die wedloop te bly. Die Brumbies reis Tokio toe om teen die Sunwolwes kragte te meet. 


Sunwolwes vs Rebels
Die Rebels draai die krane oop in Tokio en hardloop die Wolwe van hulle pote af en wen lag-lag 52-7. Met hierdie wen is die Rebels nou vyfde op die punte-tabel en tweede in die Aussie Konferensie. 
Die Wolwe speel volgende teen die Brumbies in Tokio en die Rebels is in ‘n Aussie derby betrokke teen die Waratahs in Melbourne.


Crusaders vs Blues
Die Saders wen hierdie klipharde NZ-derby in Christchurch 19-11 en is nog nie heeltemal op die standaard van wat ‘n mens van hulle verwag nie. Die Saders speel volgende teen die Chiefs in Suva, Fidji en die Blues gaan in Auckland teen die Bulle speel.


Waratahs vs Jaguares
In Sydney knak die Tahs onder die druk van die Argentyne en moes die onderspit delf en verloor 23-15. Met hierdie oorwinning skuif die Jaguares nou op tot die algehele tweede plek vir die eerste keer en is met 36 punte ook die voorloper op die SA konferensie.


Die Jaguares speel volgende teen die Reds in Brisbane met die Tahs wat in ‘n game gaan wees teen die Rebels in Melbourne.


Stormers vs Highlanders
Op Nuweland speel die Kapenaars goeie ruggas en klop die Highlanders 34-22. Daar moet egter nog baie water in die see inloop om die Kaapse bootjie bo water te hou. 


Hulle moet al hul oorblywende games wen om dan dalk in die uitspeel games betrokke te wees. 
Hulle volgende game is dan teen die Leeus in Johannesburg wat op ‘n straatgeveg kan uitloop. Die Highlanders verdien volgende ‘n loslootjie.


Haaie vs Leeus
Die Haaie klop die Leeus vir die tweede keer vanjaar en verstewig hulle kans om in die uitspeel-games betrokke te wees. Hulle beklee dan tans die sesde plek op die algehele tabel.


Die Haaie se volgende game in die Haaitenk gaan rof wees ou grote. Hulle speel teen Mr Plumtree se Hurricanes. Die Leeus draf dan teen die Stormers in Jo’burg uit en die tuisveld voordeel is dalk al wat in hulle guns gaan tel...


Nag ou grote...
* Vingerlek-lekker tjoppie en Germaanse bruis drankies, groot sak hardekool... Laat ons braai manne! 

Share this article with a friend...