Articles
Social & Community News
10 May 2019

Thabazimbi – Maandag 1 April 1946, was ‘n groot dag in Thabazimbi. Die Thabazimbi hospitaal en verpleegsterstehuis is geopen – sewe jaar voor Thabazimbi amptelik as ‘n dorp verklaar is.

 
Net ligte beserings is aanvanklik in die hospitaal behandel. Yskor se ambulans moes steeds met ongevalle na Pretoria haas. Suster Bedfort, een van die eerste verpleegsters in die hospitaal en ‘n ene Swanepoel, die eerste hulpman, het die beseerdes bygestaan.


Die Thabazimbi gemeenskap was klein en die mediese behoeftes yl gesaai. Slegs een dokter, dokter Laurence, was nodig om na die lam, siek en dooies van die myn-gemeenskap om te sien.
Druk op die myn om meer erts te produseer, het die ongeluksrisiko verhoog. Een dokter sou dus nie meer die werkslading alleen kon hanteer nie.


Platinum Bushvelder het met dokter Pieter de Kock – wat al sedert 1980 in die bosveld woon en vanaf 1995 in Thabazimbi praktiseer – gaan gesels oor dié hospitaal. 

“Die Thabazimbi hospitaal, wat aan Yskor behoort het, was aanvanklik bedoel slegs vir mynwerkers.

In 1998 het Yskor ‘n gedeelte van die hospitaal aan die staat gegee – wat toe bekend gestaan het as die ‘staatshospitaal’.

Op daardie stadium het die staatshospitaal oor geen dokters beskik nie; hulle het slegs verpleegpersoneel aan diens gehad.

Die dokters in Thabazimbi het moue opgerol en beurte gemaak om by die hospitaal te help,” vertel Dr de Kock.

Hy het self ook menige staatsure ingeploeg. 

Hy beskryf die ou gebou as “‘n antieke opset”, met groen mure. “Die sale kon maksimum agt pasiënte akkommodeer,” aldus Dr de Kock.


Na ‘n uitgerekte hospitaallisensie worsteling, is die Yskor-hospitaal afdeling verkoop en staan toe bekend as Curamed Thabazimbi Hospital. 


Gedurende 2012 het die ‘staatshospitaal’ afdeling oorgeskuif na Regorogile. 


‘n Paar jare later is die Curamed Thabazimbi Hospital verkoop aan Mediclinic Thabazimbi. 
In 2017, het die mediese personeel afskeid geneem van hierdie stuk geskiedenis wat al vir meer as 50 jaar “die hospitaal” was – toe Mediclinic Thabazimbi hul splinternuwe hospitaal oopgemaak het in Van der Bijlstaat, Thabazimbi, teen R56 miljoen. 


Nou staan die geboue leeg op die stuk grond – ewe nommer 1 Hospitaalstraat. Platinum Bushvelder het voëltjies hoor fluit dat die ou Mediclinic gebou omskep sal word in woonsteleenhede.   


Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi oor die jare heen te deel met ons lesers. Ons hoofbron kom van die boek: Thabazimbi Ysterertsmyn (1931-2006) geskryf deur Anette Barnard, en word aangevul met onderhoude en foto’s.

Die verlate verpleegsterstehuis.
Die ou Thabazimbi hospitaal wat tans leeg staan.

 

Share this article with a friend...